HESSEQUA NUUS - Melkhoutfontein-krieketklub het Saterdag, 29 Januarie weer eens hul segestog in die SWDK Six Gun Grill Promosie 2C ligawedstryd voortgesit met 'n welverdiende oorwinning oor Hartenbos.
Melkies wen met 86 lopies op hul tuisveld.
Die tuisspan het die loot gewen en besluit om te kolf. Die besoekers het met baie slordige boul- en veldwerk toegelaat dat Melkhoutfontein die skaflike totaal van 160, almal uit in 43.5 beurte kon opstapel.
Hartenbos het selfs 67 ekstra lopies tot die gasheerspan se totaal bygedra. Vir Melkhoutfontein het Saul Pietersen met sy 31 lopies vanaf 72 balle (3x4) die beste met die kolf gevaar.
Nicolaas Pietersen en Reagan Deutschen, beide met 17 lopies vanaf 64 en 27 balle met laasgenoemde se 1 vier, asook die veteraan, Jonathan Michiel met 15 vanaf 41 balle met 1 vier kon ook dubbelsyfers aanteken.
Vir die besoekers het Stefan Terblanche 3/24 na 9 beurte met 1 leeg en Liam Olivier met sy 3/17 na 6 beurte die meeste paaltjies ingeryg. Ruhan Meiring met 1/17 na 6 beurte met 1 leeg en André Kruger met 1/21 na 6 beurte met 2 leeg het die ander paaltjies laat kantel.
Die besoekers moes 161 in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar is vir 74 lopies na 22.2 beurte terug kleedkamer toe gestuur.
Net Kruger met 18 lopies vanaf 36 balle (2x4), Micele Febraio met 16 vanaf 28 balle (2x4) en Rohan Bekker ook met 16 vanaf 16 balle (2x4) kon hond haaraf maak.
Vir Melkies was Deutschen met 5/10 na 6.2 beurte met 2 leeg die groot uitblinker met die bal. Peter-John Pietersen met sy 3/27 na 6 beurte met 1 leeg en Kelvin Malgas met 2/20 na 6 beurte met 1 leeg het die ander paaltjies ingeryg.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'