RIVERSDAL KRIEKETNUUS - Kaylim Cordier van die Hoër Landbouskool Oakdale het in 2016 op die plaas aangekom met 'n tas vol drome en verwagtinge.
Hy het egter gou besef dat dit sy verantwoordelikheid is om hierdie drome met harde werk waar te maak. Hy is reeds aan die begin van sy gr. 9-jaar in Oakdale se eerste krieketspan ingesluit. In sy gr. 11-jaar het hy die eerste 100-tal teen 'n gedugte Glenwood-span aangeteken. Hierdie beurt het van temperament, volwassenheid en deursettingsvermoë getuig.
Met die aanvang van sy laaste krieketseisoen op Oakdale was dit duidelik hy wou iets groots verrig.
In die eerste T20-wedstryd van die seisoen het hy 47* van slegs 28 balle teen Worcester Gimnasium aangeteken. Daarna het die lopies tydelik opgedroog en op 5 Februarie het hy 111 lopies van 69 balle teen Hoërskool Oudtshoorn in 'n T20-wedstryd gemoker. Minder as twee weke later het hy 100 lopies teen York High aangeteken en dit weer op 7 Maart gedoen - 108 lopies teen Bridgton RPC van Oudtshoorn. Hy het tydens die 2019/2020-seisoen 'n totaal van 756 lopies teen 'n gemiddeld van 47,25 aangeteken wat drie 100-talle en drie 50-talle insluit.
Cordier het nie net goed met die kolf gevaar nie, maar ook as draaibalbouler. Hy het die vermoë om die kolftempo van ander spanne te beperk deur sy besondere boulvaardighede. Hy het 104 beurte geboul teen 'n gemiddeld van 4,13 lopies per boulbeurt.
As kaptein van Oakdale se eerste krieketspan is hy 'n mentor vir jong spelers en 'n toonbeeld van goeie sportmanskap.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'