HESSEQUA KRIEKETNUUS - Die laaste ronde van die Rekon-jeug-kriekettoernooi op die Young Stars ovaal het Sondag, 13 Desember op 'n opwindende noot geëindig toe die span van Dé Javu onverwags die Turtles, wat duidelik die gunsteling was, gewen het.
Dit was Dé Javu se eerste oorwinning in die toernooi. Dit was ook die laaste wedstryd van die dag.
Dé Javu het eerste gaan kolf en 102/8 in hul toegelate 10 beurte opgestapel. Wat vir die Turtles 'n walk in the park moes wees om die teiken van 103 aan te teken, het skielik soos 'n ysberg geword en kon hulle net 101 vir die verlies van sewe paaltjies aanteken. Dit het aan Dé Javu 'n oorwinning met een paaltjie besorg. Met dié verloor is die Turtles ook hul plek in die Beker-eindronde kwyt.
In die eerste wedstryd van die dag het Wynland FC hul wedstryd op 'n drafstap met agt paaltjies gewen na hulle die Turtles ingestuur het om te kolf. Die Turtles het 122/10 in hul kolfbeurt aangeteken.
Wynland het egter die teiken van 123 maklik behaal en sodoende ook net twee paaltjies verloor om hulle 'n oorwinning van agt paaltjies te gee.
In die tweede wedstryd het die Young Guns die span van Dé Javu 'n behoorlike loesing gegee om die wedstryd met 96 lopies te wen na hulle 202/1 in hul 10 beurte aangeteken het. Dé Javu kon net 106 lopies in hul kolfbeurt aanteken.
Die eindronde vind Sondag, 20 Desember plaas en opwindende spel behoort opgedis te word. Die eerste wedstryd begin om 13:00 tussen Turtles en Dé Javu in die Plaat-afdeling, terwyl die hoofwedstryd tussen Wynland FC en Young Guns in die Beker-afdeling plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'