RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike krieketspelers het Saterdag 14 Oktober na Kranshoek gereis vir 'n SWD-promosieligawedstryd, waar hulle met 40 lopies gewen het.
Kranshoek Cobras het die loot gewen en die Riversdallers ingestuur om eerste te kolf.
Dit het aanvanklik soos die regte besluit gelyk nadat albei Riversdal se openingskolwers binne die eerste vyf boulbeurte terug in die kleedkamer was met die telling slegs op 23.
Die besoekers se nommer 4 kolwer en kaptein, Byron Esau het ingekom en onmiddellik die tuisspan se boulers en veldwerkers laat rondstaan en sodoende die druk na die Cobras verplaas met 'n manjifieke 154 lopies van slegs 97 balle.
Dit is ook die hoogste individuele telling deur 'n kolwer van Riversdal sedert die klub aan die SWD-krieketliga in 2009 begin deelneem het.
Riversdal is uiteindelik almal uitgeboul met die telling op 235 in 35.5 boulbeurte.
Die Cobras was goed op dreef om die wenteiken van 236 te behaal met hul telling op 140 vir 2 na 22 boulbeurte.
Toe is dit die besoekers se Donnie Pieterse (10 beurte, 49 lopies, 4 paaltjies met 1 leeg) wat die vennootskap van 83 lopies om die derde paaltjie breek deur die Cobras se onderkaptein, John Koopman (60 van 39 balle), skoon te boul met 'n uitstekende inswaaibal.
Riversdal-kriekektklub na hul oorwinning oor die Cobras.
Daarna was daar min weerstand vanaf die tuisspan en word almal uitgeboul vir 195 lopies, met Paul Cupido wat ontslae raak van die Cobras se stertkantkolwers en spog met syfers van 7.3 beurte, 25 lopies en 4 paaltjies.
Riversdal het tot dusver beide hul SWD-promosieligawedstryde gewen en speel Sondag 22 Oktober hul derde wedstryd van die seisoen teen Kavaliers op Knysna.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'