Update
STILBAAI NUUS - 'n Bietjie welkome reën die dag voor die sesde Kasselshoop Farm Run op Saterdag 28 Julie het nie die 34 deelnemers afgeskrik nie.
'n Helder sonskyndag het hulle verwelkom met die reën wat die roete selfs verbeter het. Die oudste deelnemer was 'n volle 76 jaar oud en het haar tweede plaasstap fluit-fluit voltooi, terwyl die jongste vyf jaar oud was en dit ook baie geniet het.
Harold Basson was reeds verskeie kere tussen diegene wat eerste by die einde aangekom het en dié keer het hy die vinnigste tyd aangeteken.
Hy het die 5,6 km in 29 minute en 25 sekondes kafgedraf en is gejaag deur 'n paar Laerskool Bertie Barnard-leerders met die April-wenner, Schalk Fouché (11) wat tweede klaargemaak het, net-net voor die pa en seun, Johan en Philip (10) de Jager van 'n buurplaas.
Die algehele topvyf is afgerond deur langasem Chris Benade met die Mei-wenner en ook leerders van die plaaslike laerskool, Eben Vorster (12) en Kean Enslin (12) 'n paar sekondes later.
Johan Barnard was agtste, Kallie Schuldt negende en die eerste dame, Isabella Vorster (10) was 10de. Sy het net voor Verona Pieterse geëindig, met Karlien Botha die derde dame by die einde.
Schalk Fouche (voor) was tweede met Philip de Jager (links) en sy pa, Johan (regs) kort op syhake.
Stilbaai-langasem Chris Benade het vir die eerste keer aan die Kasselshoop Farm Run deelgeneem. Foto verskaf
Laerskool Bertie Barnard se landloopatlete. Van links: Philip de Jager, Schalk Fouche, juffrou Verona Pieters, Isabella Vorster, Eben Vorster en Kean Enslin.
Dit gaan egter nie vir almal daaroor om 'n beste tyd aan te teken nie. Gesinne en vriende gebruik dié byeenkoms om nie net die natuur op die plaas te waardeer nie, maar ook om gesels op te vang en boonop gesonde oefening in te kry. Die volgende plaasdrafstap gaan op Saterdag 25 Augustus gehou word.
Lees 'n vorige artikel hier: Plaasdraf vir gesonde oefeninge
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'