STILBAAI NUUS - Daar is Saterdag 22 September heerlik in dié kusdorp feesgevier met die Harcourts Hessequa Heritage Festival wat vir die tweede agtereenvolgende jaar aangebied is.
Feesgangers kon kies en keur uit 'n verskeidenheid eet- en drinkgoed by die Brood- en beskuitfeesgedeelte wat by die toerismeburo plaasgevind het. Die twee drafbyeenkomste het ook daar geëindig. By die eindpunt het plaaslike kunstenaars lekker lewendige boeremusiek gemaak terwyl almal rustig kon kuier.
Ongeveer 200 deelnemers, wat heelwat vakansiegangers en besoekers ingesluit het, het onder perfekte weersomstandighede aan die 5 km- en 16 km-wedlope deelgeneem. Laasgenoemde roete het by die getypoel in Jongensfontein begin en deelnemers al langs die kus en langs die Goukourivier tot by die eindpunt geneem, terwyl die korter 5 km-gedeelte by die Skulpiesbaai Natuurreservaat begin en dieselfde roete gevolg het.
Die korter roete is veral gewild onder kinders, maar ook onder diegene wat dit teen 'n stadiger pas aanpak om nie net hul asems te spaar nie, maar ook die natuurskoon te bewonder en met 'n geselsie of twee op te vang.
Tanya Schoeman (voor) was die eerste deelnemer na die 5 km-wedloop by die einde. Lanah Nel met nommer 894 was tweede.
Wedloopuitslae
Die 16 km-trail run is deur die Riversdal-drawwer, Danie Geldenhuys in 'n tyd van 1 uur 20 minute gewen, gevolg deur Wynand Viljoen van die Kaap so twee minute agter hom en die eerste dame by die einde, Analie Heyns, ook van Riversdal wat derde algeheel was. Gerhard du Toit was derde in die mansafdeling, met Elize Kloppers van Hartenbos die tweede dame en Wendy Joubert, ook van Riversdal, derde.
In die 5 km-afdeling was dit die jong Mosselbaai-laerskoolleerder, Tanya Schoeman wat stof in die res se oë geskop het deur die afstand in 'n tyd van 23 minute en 7 sekondes kaf te draf. Nóg 'n skolier, Conrad Heyns was net 'n paar sekondes agter Schoeman in die tweede plek en was die eerste seun by die einde gevolg deur Morné Fuls en Hardus van Jaarsveld. Lanah Nel was die tweede jong dame by die einde met Nelbé Mouton derde.
Danie Geldenhuys van Riversdal was eerste by die eindstreep na 16 kilometer vanaf Jongensfontein na Stilbaai.
Beskuitkompetisie
Die gewilde Eureka Mills-beskuitkompetisie het vanjaar wéér heelwat inskrywings ontvang en nadat die beoordelaars omtrent moes bontstaan met die proeëry, was dit Cheri Hefer se muesli-beskuit wat die wenprys verower het.
Sy het het 'n naweek vir twee persone by Strandveld-wyne naby Bredasdorp gewen, asook 'n middagete en wynproe by Jan Harmsgat-wynlandgoed in die Swellendam-omgewing met die Putstop-vulstasie buite Stilbaai wat 'n bydrae tot die brandstof gemaak het.
Lea du Toit se gesonheidbeskuit was tweede en sy het 'n wildsbesigtigingsbesoek vir twee volwassenes en twee kinders by die Garden Route Game Lodge gewen, terwyl Estelle Vorster se growwe beskuit derde was en vir haar 'n olifantstap vir twee by Indalu Game Reserve gewen het.
Almal het ook meelgeskenkpakke van Eureka Mills gewen. Dié meelvervaardiger van Heidelberg-omgewing het die kinders ook geleer om stokbrood te braai, terwyl daar heelwat ander pret vir die kinders was.
Volledige resultate en foto's van die wedlope, asook die fees is beskikbaar by www.mystilbaai.co.za en op Hessequa Heritage Fees op Facebook.
Karen Wentzel van Riversdal voel vrolik tydens die 16 km-trail run. Foto's: Richard Webb
Lees 'n vorige artikel hier: Erfenisfees sorg vir pret
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'