Update
STILBAAI NUUS - Oomblikke nadat een van die plaas se jong koeie geboorte gegee het aan 'n verskalf nie ver van die beginpunt van die Kasselshoop-plaasdraf nie, het die 54 deelnemers die 5,1 km-roete Saterdag 25 Augustus op die plaas Klein Soebattersvlakte aangepak.
Die koei het belangstellend, maar ongestoord gekyk hoe jong hardlopers en stappers, asook diegene met meer jare agter die rug geselsend verby beweeg op die roete wat groen deurgeslaan het na onlangse welkome reën.
Deelnemers van Heidelberg, Riversdal en Albertinia, asook van Stilbaai en Jongensfontein het die oefening in die natuur geniet terwyl heelparty besoekers van sover as die Kaap óók deelgeneem het. Die ongure weer het weggebly en 'n wolklose en windstil oggend is deur almal verwelkom.
Dit was uiteindelik die 15-jarige Jahred Weideman wat eerste by die eindpunt was in 'n tyd van 23 min 35 sek. Hy is gevolg deur 'n boer van die omgewing en gereelde deelnemer, Johan de Jager wie se 9-jarige seun, Philip, dié keer vyfde algeheel was. De Jager was egter net ses sekondes voor Marius Cronjé by die einde, wat gevolg is deur Daniel Kotzé. Isabella Vorster (10) was, soos tydens die vorige ren, die eerste dame by die einde (sy was 10de algeheel) en is gevolg deur Madelé Cronjé met Cornelia Giliomee derde, Marilise van der Merwe vierde en Lizette Cronjé vyfde.
Die Kasselshoop plaasdraf is só ontwerp dat almal dit kan geniet en bied die geleentheid om 'n gemerkte roete, wat elke keer verskil, op 'n privaat plaas te doen.
Die volgende byeenkoms vind op 29 September plaas.
Lees 'n vorige artikel: Sukses met sewende plaasdraf
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'