GEORGE NUUS - Meer as 500 atlete het Vrydagaand, 27 Januarie, aan een van die gewildste geleenthede op die atletiekkalender in George, die 5 km en 10 km Nite Race deelgeneem. Dit was die meeste atlete ooit wat aan die geleentheid deelgeneem het.
Dit is deur Top Gear in samewerking met Rainbow-atletiekklub aangebied. Hier teen omstreeks 18:00 het die atlete reggestaan by Top Gear Sport op die hoek van Hibernia- en Meadestrate. Sowat 200 atlete het aan die 5 km deelgeneem en byna 350 atlete aan die 10 km.
Eers het die atlete aan die 5 km wegge-spring en 'n rukkie later die atlete in die 10 km.
Sidwell October, een van die organiseerders, het Dinsdag gesê die geleentheid was 'n reusesukses. Dit het in ideale omstandighede plaasgevind en mooi weer het geheers. "Die weer het mooi saamgespeel."
Daar was 'n baie goeie gees onder deelnemers en oud en jonk het deelgeneem. Die jongste deelnemer was 8 jaar oud en die oudste 80 jaar.
Atlete maak gereed om in die 5 km-wedloop weg te spring.
Volgens October is een van die redes vir die sukses omdat dit vroeg in Januarie plaasvind. Voorts omdat dit al 15 jaar op die kalender is.
Dit sal beslis weer aanstaande jaar aangebied word en dit sal plaasvind op die laaste Vrydag in Januarie.
Die 10 km-mansafdeling is deur Lloyd Bosman gewen in 'n tyd van 29,49 en die vroueafdeling deur Stephanie Pedro in 'n tyd van 36,01.
Een van die atlete het die wedloop kaalvoet op die teerpad gehardloop.
Eddie Mouton is 'n ervare atleet en weet tyd saam met sy moeder, Jane, op die pad is 'n voorreg.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'