Gallery Update Video
RIVERSDAL ATLETIEK NUUS EN VIDEO - ASWD-Landloop het Saterdag 17 Augustus die belangrikste kampioenskap van die jaar by die Riverville-stadion aangebied.
Altesaam 650 atlete tussen 9 en 75 jaar oud het in uiters winderige toestande aan die gesamentlike kampioenskap van Eden-skole en ASWD-landloopklubs deelgeneem.
"Hierdie is een van die hoogtepunte op SWD se kalender en die laaste byeenkoms van die seisoen," het Shireen Noble, president van ASWD tydens die amptelike opening gesê.
Die atlete, onderwysers, ouers en ondersteuners het van Plettenbergbaai, Knysna, George, Mosselbaai, Kannaland en so ver as Beaufort-Wes gekom om teen Hessequa se volwasse- en skoolspanne deel te neem.
'n Baan van 2 km is op die sportveld met sperlint afgemerk. Die linte het omtrent gewapper in die stormsterk wind en baanbeamptes moes gereeld klou aan vlae wat wou wegwaai. Die ouer deelnemers se wedlope het oor 8 km gestrek, wat beteken hulle moes die roete vier keer voltooi. Die jonger atlete se afstand was net 2 km. Elke item is afgehandel voor die volgende een kon begin.
Uit die wenners van die jonger ouderdomsgroepe is die Eden-skolespan gekies wat later vandeesmaand in die Strand aan die Wes-Kaap-skolekampioenskap deelneem. Die wenners van die ouer garde vorm die ASWD-landloopspan wat op 6 en 7 September in Centurion aan die Atletiek SA (ASA)-kampioenskap gaan deelneem.
Joe Arendse, voorsitter van ASWD-landloop het Hessequa bedank dat hulle hart, hand en die hekke van die sportterrein oopgemaak het vir die eerste ASWD-kampioenskap wat hier aangebied word.
"Ons is bevoorreg om so 'n prestige byeenkoms hier aan te bied," het speaker Andrew Stroebel gesê.
"Hoewel dit 'n belangrike ekonomiese inspuiting vir ons dorp is, gaan dit oor die samesyn van die gemeenskap en veral die ontwikkeling van die kind."
Volgens Raymond Heunis, bestuurder: gemeenskaps-ontwikkeling, was die byeenkoms vir die munisipaliteit 'n geleentheid om hande te vat en 'n vennootskap met ASWD te bou. Arendse het belowe om die byeenkoms weer terug te bring na die dorp in die skadu van die Slapende Skoonheid.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Landlopers hardloop soos die wind
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequanuus