Update
STILBAAI NUUS - Vrydag, 28 Januarie was behoorlik 'n miernes van bedrywighede toe die skool hulle atletiekbyeenkoms aangebied het.
Die slagordes is alreeds Donderdagmiddag opgestel toe die veldnommers afgehandel is.
Die Rooi- en Blouspanne het alles in hulle vermoë gedoen om Vrydag met 'n voorsprong te begin en daar was werklik goeie spronge in die ver- en hoogspring. Werpskyf en gewigstoot het ook nie op hulle laat wag nie en die kinders het almal hulle beste gegee.
Die Rooispan se dirigente het met 'n bloedrooi brandweerwa by die baan aangekom, gevolg deur die Blouspan op 'n trok met boublokke. Dit was duidelik dat hier 'n titaniese stryd kom en toe die twee spanne hulle krete doen, was die tafel gedek.
LEES MEER: Berties warm op vir atletiekseisoen
Ouers het reeds vroegoggend die walle om die atletiekbaan vol gepak en hulle kinders luidkeels aangemoedig. Selfs die wat moes werk het deur die loop van die oggend weggeglip om gou hulle kinders te ondersteun.
Neil Meyer wys hoe ver hy kan spring.
Uiteindelik was dit die Blouspan wat die meeste punte opgestapel en met die louere weggestap het, maar die Rooispan het seker gemaak hulle wen die geesbeker. Daar was heelwat puik prestasies en 'n paar rekords het in die slag gebly.
Die junior victrix ludorum is Larize Brits. Die junior victor ludorum word deur Adam Lekker en Alex Fouché gedeel.
Die senior victrix ludorum is Luané Jansen van Rensburg en die senior victor ludorum Joshua Helmand.
Die deelnemers het beslis nie 'n tekort aan ondersteuning gehad nie.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'