STILBAAI NUUS - Vir maande lank het die mammas van die gr. 6-leerders beplan en voorberei vir Laerskool Bertie Barnard se gewilde Spar-ontbyt, terwyl inwoners reeds uitgesien het na die oggend se heerlike bederf.
Die wag is uiteindelik op 2 September beloon toe die eerste van drie sessies om 07:00 afgeskop het. 'n Tweede sessie het om 08:00 gevolg, met die laaste groep wat om 09:00 aangesit het.
Die gemeenskapsaal is vir die geleentheid pragtig volgens 'n blommetema versier, terwyl Stilbaai se inwoners buite met 'n heerlike lentedag begroet is.
Meer as driehonderd borde kos is gedurende die drie sessies voorgesit en alles het met byna militêre presisie verloop.
Die gr. 6-leerders het as kelners en kelnerinne opgetree en behoorlik geskarrel om seker te maak dat elke gas die oggend geniet. Met hul entoesiasme en vriendelikheid het hulle 'n groot bydrae tot die sukses van die geleentheid gelewer.
Agter die skerms was die mammas voortdurend besig om seker te maak dat alles vlot verloop. Hulle het tussen sessies soos skimme verskyn om tafels vinnig op te ruim en gereed te kry vir die volgende groep gaste.
Die ontbyt is nie net 'n heerlike sosiale geleentheid nie, maar ook 'n belangrike fondsinsameling vir die gr. 7-leerders se toer. Dit bied terselfdertyd aan die gr. 6-leerders die geleentheid om op 'n besondere manier totsiens te sê aan die gr. 7's wat binnekort hul laerskooldae agterlaat en hoërskool toe vertrek.
Stilbaai Spar het al die eet- en drinkgoed vir die geleentheid gratis verskaf, terwyl Stilbaai Kwekery verantwoordelik was vir die pragtige blomversierings wat die saal in 'n vrolike lentetuin omskep het.
Die sukses van die oggend het weereens gewys wat moontlik is wanneer 'n gemeenskap hande vat. Leerders, die skool, ouers, plaaslike besighede en natuurlik die talle gaste het almal hul deel gedoen om van die ontbyt 'n sukses te maak - alles vir 'n goeie doel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’