Die woorde 'jy ontmoet nie mense per ongeluk nie' beteken dat geen siel ooit toevallig jou pad kruis nie. Elke ontmoeting het 'n doel, elke persoon wat jou lewe binnekom is daar vir 'n rede - of dit nou is om jou iets te leer, jou te seën, of jou lewensverhaal in 'n nuwe rigting te stuur.
Vanuit hierdie perspektief word toevallige ontmoetings eerder kruispunte: betekenisvolle oomblikke wat jou vorm, verdiep en help groei op die lewenspad wat jy loop.
'n Vinnige aanlyn soektog na hierdie bekende wysheid neem my na vyf verskillende skrywe oor die onderwerp. Die een wat ek die meeste geniet het, is van Sriram Yaladandi in You Don't Meet People by Accident (medium.com: Quirky Rants, 11 Nov 2025).
Yaladandi sê elke ontmoeting is óf 'n boodskap (om jou te herinner wie jy is en wat jy vergeet het), 'n spieël (diegene wat jou dele van jouself in die gesig laat staar wat jy vermy), óf 'n herinnering in wording (mense by wie jy tuis voel en vrede vind).
Soos menigte ander het ek 'n swakheid vir 'n goeie liefdesverhaal. Ek sal skelm lees as ek moet, maar daar is min dinge wat my soveel lekkerkry gee: om te lees hoe twee siele mekaar gevind het.
My liefling het verlede week verjaar - op die 13de - so siende dat hierdie sy week is, wil ek iets van hom deel.
Toe ek 16 jaar oud was het ek en my vriendin op die gras voor die skool sit en gesels. "As daar een ding is waaroor ek seker is," sê ek vir haar, "is dit dat ek nooit met iemand sal trou wat rook, of gholfspeel, of vir die staatsdiens werk nie."
Die universe het my gehoor en in haar mou gelag.
My liefling doen al daai goed - wel, ek kan trots sê hy het ophou rook na bykans 40 jaar. Die punt is, my lewe saam met hom is een groot les, maar dit voel ook soos huis. Ons het immers in Home Affairs ontmoet, twee weke voor hy na George sou verhuis. Min wetend dat ek sou saamkom.
As jy 'n mooi liefdesverhaal het wat jy wil deel, skryf vir my by michelle@groupeditors.co.za. Geen ontmoeting is toevallig nie, maar sommige is so mooi, dis 'n storie werd!
Foto: Canva
‘n Uittreksel uit Sriram Yaladandi se blog You Don’t Meet People by Accident (medium.com: Quirky Rants, 11 Nov 2025).
Die boodskap
Sommige mense kom in jou lewe net om jou wakker te maak. Hulle bly nie vir ewig nie, hulle is net lank genoeg daar om jou te herinner wie jy is en wat jy vergeet het. Hulle leer jou dalk geduld, of toets jou krag. Hulle wys jou dalk dat jou grense nooit regtig grense was nie. En wanneer hulle tyd verby is, vertrek hulle … stilweg, skielik, pynlik.
Die spieël
Dan is daar diegene wat jou weerspieël. Hulle weerspieël jou vrese, jou wonde, jou gewoontes, soms ook jou liefde. Jy dink hulle is hier om jou te voltooi, maar hulle is eintlik hier om jou te wys wie jy is.
Hulle laat jou dele van jouself in die gesig staar wat jy vermy het. Die ongeduld, die onsekerheid, die behoefte aan beheer. Dis kan baie ongemaklik wees, maar groei begin altyd waar gemak eindig. Die spieëlmense maak seer, maar hulle genees ook. Hulle breek jou oop om plek te maak vir lig.
Die herinnering
En dan … is daar die seldsames. Diegene wat nie lesse leer of refleksies ontketen nie. By hulle voel jy eenvoudig tuis.
Hulle is nie raserig nie. Hulle is standvastig. Hulle kom nie om jou te verander nie, hulle kom om te bly.
Hulle herinner jou daaraan dat liefde nie chaos hoef te wees om eg te voel nie. Hulle luister, nie omdat hulle raad het nie, maar omdat hulle werklik omgee.
Daardie mense is seëninge. As jy een vind, hou hulle naby. Omdat hulle bewys is dat vrede in menslike vorm bestaan.
Die waarheid is ... elke siel wat jy ontmoet, laat vingerafdrukke op jou storie.
Sommige laat letsels. Sommige laat sagtheid. Sommige laat krag.
Jy verstaan dit dalk nie wanneer dit gebeur nie.
Jy bevraagteken dalk die tydsberekening, die pyn, die stilte, die skielike afskeid.
Maar eendag, wanneer jy die kolletjies agteruit verbind, sal jy sien dat elke persoon 'n doel gehad het.
Sommige het jou liefgekry.
Sommige het jou kom leer.
Sommige het jou oopbreek sodat jy kon herbou.
En sommige het net gekom om jou te herinner dat nie almal weggaan nie.
So moenie die eindes vervloek nie.
Moenie die ontmoetings vrees nie.
Vertrou net die vloei.
Want die regte mense gebeur nie sommer net nie.
Hulle word gestuur.
En wanneer hulle jou vind, sal jy weet - nie omdat dit perfek is nie, maar omdat dit uiteindelik soos vrede voel.
Foto ter illustrasie: Ruben Boekeloo, Pexels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’