HESSEQUA NUUS - Hessequa spog vanjaar met twee skole wat ‘n 100%-slaagsyfer behaal het: Hoër Landbouskool Oakdale en Hoërskool Albertinia.
“Met 53 matrikulante het ons ‘n groot en vól klas gehad. Daar was talle uitdagings. Leerders was dikwels afwesig, as gevolg van ‘n gebrek aan selfdissipline, ouers - sónder normes en waardes - wat nie die hoof en opvoeders se besluite respekteer nie, nie die skool ondersteun nie en onbetrokke by hul kinders se tuisopvoeding is,” sê Dennis Karelse, Hoërskool Albertinia se hoof.
“Kinders het té veel ‘gesag’ in hul huishoudings en dan bring hulle daardie houding skool toe. Dit lei tot allerlei uitdagings.”
Karelse wys uit sónder die skool se effektiewe voogstelsel en die onderwysers se toewyding sou dié uitslag onmoontlik gewees het.
“Die motivering van verskeie rolspelers in die gemeenskap en selfs van buite die dorp, na-uurse klasse, koshuisverblyf tydens die eksamen en finansiële hulp van die departement van onderwys het ons aksieplanne gesteun. Talle leerders het deur die jaar gedruip, maar hulle is aangespreek, ingelig wat van hulle verwag word en saam het ons mekaar se verpligtinge nagekom.”
Hy sê goeie beplanning en individuele aandag aan elke leerder so ver moontlik hét gewerk.
“Met die krag van Bo kon ons positiwiteit by die leerders kweek en hulle laat glo hulle kán. Ons leuse is met rede: ons beur kruin toe.”
Hoërskool Albertinia se toppresteerder is Yani Havelaar. Sy is ook die duxleerder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’