HESSEQUA NUUS - Die Eden en Sentraal-Karoo word as dié onderwysparadys in die Wes-Kaap bestempel.
Die distrik sluit Hessequa - Albertinia, Heidelberg én Riversdal - in.
Gesamentlik spog die distrik met ‘n matriekslaagsyfer van 89,2%. Dit is nie net die beste in die provinsie nie; dit is selfs hoër as die nasionale slaagsyfer van 87,3%.
Hessequa en Kannaland se hoërskole het gesamentlik ‘n prysenswaardige slaagsyfer van 96,8% verwerf.
“Dit is ons strewe om uitnemendheid te ontgin en om ons jeug die beste moontlike geleenthede te bied,” sê Grant Riddles, Hessequa-burgemeester.
Hoewel net twee skole verlede jaar (twee minder as in 2023) daarin kon slaag om 'n 100%-slaagsyfer te behaal, het dit nie die oorkoepelende gemiddelde verlaag nie.
Inteendeel, die gemiddelde slaagsyfer is vergroot deur 'n puik opwaartse prestasie deur die Gerrit du Plessis Sekondêr in Riversdal: van 83.6% in 2023 tot 96.1% in 2024.
Net enkele van nagenoeg 470 Hessequa-matrikulante wat die eksamen afgelê het, het gedruip.
Die burgemeester se boodskap aan die matriekklas van 2024 is: “Doen wat jy doen met 'n polsende hart en volharde geloof. 'n Eenmalige mislukking definieer nie jou toekoms nie. Almal struikel soms, maar ons kan opstaan, vorentoe beur en 'n reis vol beloftes en geleenthede ontgin. Die Here bied altyd 'n erfenis wat beloon word.”
Grant Riddles (Hessequa-burgemeester), Lenichia Willemse (burgemeestersassistent), Henco Smith (Hoërskool Langenhoven se hoof), en 'n aantal amptenare van die Wes-Kaapse departement van onderwys klink 'n glasie vonkelwyn op Kring 1 se onderwysprestasie.
Jewel Jonkers, Distriksdirekteur van die Eden en Sentraal-Karoo, het sy dankbaarheid uitgespreek oor hierdie wonderlike prestasie en gesê:
"Dit was altyd my droom om ESK as die topdistrik in die provinsie, en uiteindelik in die land, te posisioneer. Dit maak my nederig om soveel genade van God te ervaar."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’