EIENDOMSNUUS - Dikwels word heffings jaarliks verhoog en rente gehef op agterstallige betalings, sonder dat 'n formele trusteeresolusie of besluit geteken is.
Die meeste bestuursagente is steeds onder die indruk dat wanneer eienaars die voorgestelde begroting tydens die algemene jaarvergadering bekragtig het, dit die finale besluit is.
Bogenoemde stelling kan egter ernstige gevolge inhou vir 'n regspersoon en die bestuursagent.
In terme van die Deeltitelbestuurswet van 2011, is heffings betaalbaar wanneer daar 'n resolusie deur die trustees geneem is.
Artikel 3(2) verwys spesifiek na die feit dat die verantwoordelikheid om heffings en spesiale heffings te betaal begin, sodra die trustees die formele besluit geneem het.
Liability for contributions levied under any provision of subsection (1), save for special contributions contemplated by subsection (4), accrues from the passing of a resolution to that effect by the trustees of the body corporate, and….
Dieselfde word ook in Bestuursreël 21(3) genoem rakende rente, naamlik:
The body corporate may, on the authority of a written trustee resolution - charge interest on any overdue amount payable by a member to the body corporate; …
Die wet maak dit duidelik dat 'n heffing nie verhoog kan word, of rente gehef word op agterstallige gelde, tensy daar 'n skriftelike getekende trusteeresolusie in plek is nie.
Die belangrikheid van trusteeresolusies is onlangs baie duidelik gestel in die The Marsh Rose Body Corporate v Steinmuller & Others (A5002/2020) [2021] hofuitspraak, toe die regspersoon geweier het om 'n uitklaringsertifikaat uit te reik, nadat die eiendom deur die verbandhouer teruggeneem is en op 'n veiling verkoop is.
Die regspersoon het verseg om 'n uitklaringsertifikaat uit te reik aangesien die verkoper geweier het om al die uitstaande gelde te vereffen. Alhoewel dit die korrekte prosedure is om te volg, het die hof 'n ander siening hieromtrent gehad. Ek moet ook net noem dat die verkoper ook 'n sekere bedrag aangebied het as sekuriteit wat deur die regspersoon verwerp is, en dit is hoe die aangeleentheid in die hof beland het.
Een van die stellings wat in die uitspraak gemaak is, is dat die regspersoon se huis nie in orde was nie, byvoorbeeld, die regspersoon kon glad nie die nodige skriftelike trusteesresolusies verskaf vir die jaarlikse heffingsverhogings nie, en die persentasie rente wat gehef mag word op agterstallige gelde nie.
Om dinge te vererger, is die rente wat gehef is, baie hoër as wat wetlike toelaatbaar is (sien Bestuursreël 21(3)), en ongetakseerde regskostes is toegevoeg wat uiteindelik bygedra het tot 'n opgeblase bedrag teenoor die werklike agterstallige bedrag.
Ek wil net vining aan die leser verduidelik dat daar kostetabelle in die hofreëls is wat 'n prokureur moet volg wanneer sy/haar rekening opgestel word. Uiteindelik word hierdie rekening deur die takseermeester van die betrokke hof nagegaan om vas te stel of alles wat geëis word, toelaatbaar is.
Ek vertrou dat trustees en bestuursagente uit hierdie saak sal leer, en ook besef hoe belangrik dit is om te alle tye professioneel op te tree om te verseker dat skemas aan al die wetlike vereistes voldoen.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'