EIENDOMSNUUS - Met die aanbreek van elke nuwe jaar is daar 'n nuwe stel uitdagings vir elke regspersoon.
Hier volg 'n lys van wetlike vereistes waaraan die regspersoon jaarliks moet voldoen, en waarvoor die trustees vroegtydig kan beplan.
Indien daar enige sake van 2019 oorgestaan het, maak dit 'n prioriteit om dit so gou as moontlik af te handel.
Algemene jaarvergadering
Stel solank 'n voorlopige datum vas en dagboek die datum. Onthou dat algemene jaarvergaderings binne vier maande na die finansiële jaareinde van die regspersoon, gehou moet word. Byvoorbeeld as die laaste dag van die finansiële jaar 28 Februarie is, moet die algemene jaarvergadering voor 30 Junie van die dieselfde jaar gehou word. Indien eienaars vroegtydig van die algemene jaarvergadering weet, is die bywoning gewoonlik ook beter, aangesien hulle kan vroegtydig kan beplan om die vergadering by te woon.
10-jaar onderhoudsplan
Aangesien die 10 jaar onderhoudsplan by die algemene jaarvergadering voorgelê moet word vir goedkeuring, hersien die plan vroegtydig. Die begroting en finansiële beplanning vir die regspersoon loop hand aan hand met die 10 jaar onderhoudsplan en dit is belangrik dat die trustees by die algemene jaarvergadering die eienaars inlig van enige belangrike onderhoudsaangeleenthede wat beplan word.
Voorgestelde begroting
Stel die begroting ten minste drie maande voor die einde van die finansiële jaar op. Dit gee die trustees genoeg tyd om te vergader en die nodige veranderinge aan te bring. Voor die finale begroting aan die eienaars gestuur word met die nuwe heffingskedule.
Heffingverhogings
Eienaars moet ten minste een maand voor die tyd in kennis gestel word van enige verhogings in heffings. Dit gee eienaars 'n genoegsame geleentheid om reëlings te tref by hulle finansiële instellings indien hulle heffings met 'n aftrekorder betaal. Indien u 'n debietorder geteken het sal u bestuursagent outomatiese die bedrag aanpas. Genoegsame tyd aan eienaars verminder ook die kanse vir enige betalings wat terug dateer moet word.
Trusteevergaderings
Stel datums vir trusteevergaderings tydens die eerste trustee vergadering vas. Trustees vergader te minste vier maal per jaar, maar niks keer die trustees om meer te vergader nie. Dit voorkom enige onvoorsiene en ontydige vergaderings om besluite te neem en aangeleenthede af te handel.
Versekeringspolis
Trustees moet vroegtydig kompeterende kwotasies aanvra - nie net vir begrotingsdoeleindes nie, maar ook om 'n ingeligte besluit te maak indien daar van makelaar of versekeraar verander wil word.
Waardasie van geboue en gemeenskaplike eiendom
Volgens wetgewing moet 'n waardasie elke drie jaar uitgevoer word. Dit is belangrik dat trustees hierdie verantwoordelikheid nakom om te verseker dat die skema se versekeringspolis gebaseer is op die nuutste vervangingswaardes.
Waarom is pro-aktiewe beplanning so belangrik?
Wetgewing maak die bestuur van 'n skema die fidusiêre verantwoordelikheid van die trustees; en net soos met die bestuur van 'n besigheid, kan pro-aktiewe beplanning verhoed dat 'n skema in finansiële en wetlike moeilikheid beland.
In die meeste skemas maak die trustees gebruik van die dienste van bestuursagente en beplanning help sodoende beide partye met die uitvoer van hulle pligte aangesien verantwoordelikhede betyds afgehandel kan word.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels. huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'