NASIONALE NUUS - Die NGV is ontwerp om elke persoon in Suid-Afrika in staat te stel om gehaltegesondheidsorg te ontvang en om Suid-Afrika te help om ’n gesonder nasie te word.
Dit sal regverdigheid skep met betrekking tot die verdeling van gesondheidsfinansies en ander hulpbronne, insluitend vaardige gesondheidswerkers.
Tans word meer geld (deur individue, werknemers en die regering) spandeer aan elke pasiënt wat privaat gesondheidsorg ontvang as wat spandeer word aan pasiënte wat staatshospitale en -klinieke besoek.
Boonop is die tekort aan dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers groter by openbare gesondheidsinstansies.
Die NGV sal op ’n regverdige basis fondse aan openbare en privaat gesondheidsorgwerkers voorsien. Hierdeur sal dit moontlik wees vir almal om goeie behandeling te ontvang, ongeag die gesondheidsorginstansie waarheen hulle gaan.
Die NGV beteken dus dat jy gratis gesondheidsorg sal ontvang wanneer jy dit nodig het en ’n tekort aan geld sal nie meer verhoed dat jy behandeling ontvang nie. Ingevolge die NGV sal jy nooit kontant by ’n hospitaal of dokter se spreekkamer hoef te betaal nie.
Die huidige stelsel van hospitaalfooie by staatshospitale sal wegval. En, anders as wat nou met meeste mediese fondse gebeur, sal niemand gevra word om ’n gedeelte van die rekening te betaal nadat hulle behandeling ingevolge NGV ontvang het nie.
Hoe gaan dit werk?
Die NGV-fonds sal die geld vir gesondheidsorg voorsien. Dit sal nie hospitale, klinieke of die praktyke van algemene praktisyns, tandartse, spesialiste en ander gesondheidswerkers bestuur nie, maar kontrakte met staats- en privaat hospitale, spesialiste, staatsklinieke en privaat dokterspraktyke aangaan om gesondheidsorg gratis aan elke Suid-Afrikaanse burger en wettige inwoner te bied.
Die fonds sal slegs gesondheidsgeriewe finansier wat aan die vereiste kwaliteitstandaarde voldoen. Alle NGV-pasiënte sal die gesondheidsorgstelsel by primêre vlak betree - dus by ’n kliniek of dokter se spreekkamer. Die primêre gesondheidswerker sal die pasiënt na ’n spesialis of hospitaal verwys indien verdere behandeling nodig geag word. Die NGV sal nie betaal vir pasiënte om ’n spesialis te sien tensy hulle behoorlik deur ’n primêre gesondheidsorginstansie verwys is nie.
Wie sal vir NGV betaal?
Die NGV-fonds sal geld vanaf algemene belastinginkomste ontvang en van spesiale bydraes deur individue wat bo ’n sekere inkomste verdien en hul werkgewers. Die fonds sal ’n groot gedeelte vanaf algemene belasting ontvang, dus sal elke persoon in Suid-Afrika ’n bydrae tot die fonds maak, aangesien almal een of ander soort belasting betaal.
Diegene wat meer verdien, sal meer bydra. Mense met ’n karige inkomste sal nie enige direkte betalings aan die fonds maak nie. Elke persoon wat bo ’n aangewese bedrag verdien, sal wel deur wetgewing verplig word om ’n maandelikse NGV-betaling te maak en in die meeste gevalle sal hierdie bedrag laer wees as die mediesefondstariewe.
Die direkte betaling sal meer wees vir mense wat meer verdien.
Werkgewers sal die fonds help deur te verseker dat hul werknemers se bydraes ingesamel en ingedien word, op dieselfde wyse as wat bydraes tot die werkloos-heidsersekeringsfonds gemaak word. Werkgewers se deel sal dieselfde wees as werknemers s’n.
Waarop is jy geregtig?
Die NGV sal die ‘dienstepakket’ waarop jy geregtig is duidelik omskryf. Hierdie pakket sal omslagtig wees en al die nodige gesondheidsorg insluit. Indien jy werklik behandeling nodig het - insluitend hospitalisasie - sal dit gratis gedek word. Niemand sal jou vertel dat jou ‘voordele uitgeput is’ nie.
Jy sal nie gevra word om die koste te deel nie, tensy jy nie die vereiste verwysingsroete volg en by jou kliniek of algemene praktisyn begin nie of jy behandelingsopsies kies wat nie deur die dienstepakket gedek word nie. Gesondheidswerkers sal jou behandel volgens nasionale riglyne wat goeie mediese praktyke bevorder en deur die NGV goedgekeur is en sal nie betaal vir prosedures wat nie vir gesondheidsredes vereis word nie.
Die NGV-fonds sal slegs diensverskaffers aanstel wat gehaltesorg lewer en elke hospitaal, kliniek of praktyk wat deel daarvan wil wees, sal vooraf gesertifiseer moet word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'