Update
NASIONALE NUUS - Die Wes-Kaap gesondheidsdepartement ondervind 'n tekort aan orale voorbehoedmiddels.
"Tans is daar nie genoeg voorraad van die orale voorbehoeding, naamlik die 'pil' nie," sê Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement. "Daar is egter voorraad van verskeie ander metodes van voorbehoeding wat pasiënte in oorleg met verpleegpersoneel kan gebruik."
Sy sê die departement is bewus daarvan dat verskeie soorte kritieke medisyne, wat sommige voorbehoedmiddels insluit, glad nie of slegs in klein hoeveelhede beskikbaar is.
"Dit veroorsaak baie frustrasie vir ons personeel en pasiënte. Ons het ons kommer teenoor die nasionale departement van gesondheid, wat die nasionale tenders vir medikasie bestuur, uitgespreek.
"Ons is ingelig dat hulle aan die probleem werk."
Sy versoek pasiënte om van alternatiewe vorms wat by klinieke beskikbaar is gebruik te maak.
"Gebruik asseblief ook altyd 'n kondoom wanneer jy seks het."
Volgens haar word paartjies aangemoedig om voor hulle seksueel aktief is te besluit wat hulle gaan gebruik om ongewenste swangerskap te verhoed.
"Ons kundige verpleeg-personeel sal volgens die kliënte se voorkeure saam met hulle help besluit wat die beste sal werk."
Voorbehoeding wat deur die departement aangebied word en wat by alle klinieke en hospitale beskikbaar is, sluit naas kondome ook die orale pil, twee- of driemaandelikse inspuiting, Implanon, IUD, sterilisasie, asook noodkontrasepsie in.
Lees 'n vorige artikel hier: Tekort aan 'die pil', maar talle ander planne
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'