MOTOR NUUS - Die totale voertuigverkope vir Oktober vanjaar was die hoogste sedert Oktober 2015. Altesame 51 866 nuwe voertuie is verhandel - 'n verbetering van 844 eenhede teenoor Oktober verlede jaar.
Nuwe passasiersmotors het 35 050 nuwe eienaars gekry, terwyl verkope van ligte handelsvoertuie opgeskiet het na 14 168 eenhede.
Onder die toptien vervaardigers het Toyota uiteindelik sy 25% doelwit van die totale Suid-Afrikaanse mark behaal met 'n skitterende 13 342 verkope. Dis 'n indrukwekkende duisend eenhede meer as in September vanjaar.
Toyota se sterre was die algehele topverkoper Hilux (3 352), Corolla/Auris/Quest op 2 161 en Quantum op 1 483 eenhede. Selfs Fortuner met 1 178 verkope het tot die feestelikhede bygedra, terwyl Etios se taamlik beskeie 885 verkope ook sy rol gespeel het. Die maatskappy se Lexus-afdeling spook egter om by te bly teenoor Jaguar (122) deurdat net 70 kopers oorreed is om die beursie oop te maak.
Volkswagen (8 983) is gemaklik in die tweede algehele plek met nagenoeg 400 eenhede meer. Die topverkoper onder passasiersmotors was Polo Vivo (3 009) en Polo op 2 824 verkope. Die briljante Tiguan (684) en Golf 7 (304) het ook mooi bygedra, maar die Amarok se syfer van 247 is selfs swakker as Hyundai se betreklik nuwe H-100 bakkie wat 384 nuwe eienaars gekry het.
Ondanks 'n geringe daling van 88 eenhede met 'n totaal van 5 421, bly Ford steeds in die derde plek met Ranger (2 575) wat goed vaar. Figo (840) en Fiesta (888) tel onder Ford se sterre, terwyl kopers klaarblyklik bereid is om hul name op die waglys te plaas vir Mustang (72).
Na etlike jare in die sesde plek lyk dit of Nissan nou die vierde plek sy eie gemaak met 'n totaal van 4 902 verkope. Dit was egter 140 eenhede minder as in September. Nissan se presteerders is NP200 (1 888) en NP300 (704). Die toekoms lyk egter duister vir die Hardbody (117) wat in onlangse veiligheidstoetse as lewensgevaarlik uitgewys is in botstoetse teen 65 km. Nissan se passasiersmotors vaar ook goed met Almera (542), Datsun GO (310) en X-Trail (197) wat die ligstraaltjies verskaf.
Met 'n verbetering van meer as 200 eenhede vir altesame 3 160 verkope, bly Hyundai stewig in die vyfde plek. Dit is danksy Grand i10 (900), Creta (324) en die reeds vermelde H-100 bakkie (384).
Die maatskappy se sportnutse sukkel egter met Santa Fé se beskeie drie eenhede, en Tucson op 'n ietwat teleurstellende 264 verkope.
Die verrassing van die maand is egter Isuzu wat met 'n totaal van 2 426 bykans eenduisend eenhede meer verkoop het as in September en terselfdertyd opgeskuif het van agtste na 'n indrukwekkende sesde plek.
Isuzu se sukses is hoofsaaklik te danke aan KB (1 638) en D-Max(123) se verkope. Alle Isuzu-bakkies sal voortaan D-Max heet.
Renault, wat nou sewende is met 2 364 verkope, het 230 eenhede minder as in September verkoop en het een plek afgeskuif. Die vervaardiger maak steeds staat op Kwid (733), Clio IV (476) en Sandero II (750).
Goeie nuus vir Kia is dat die totaal van 1 400 nie net 50 eenhede beter was as in September nie, maar ook gesorg het vir 'n verbetering van tiende na agtste. KIA se presteerders was oudergewoonte Picanto (781) en Rio (301), terwyl sportnutse soos Sorento (33) en Sportage (125) veel beter kan doen.
Die onderste twee plekke op die ranglys behoort aan die twee Duitse topverkopers van weleer. BMW (1 382) bly in die negende plek, terwyl Mercedes-Benz (1 347) diep sal kan nadink oor die sewende plek wat hy in September beklee het.
Daar is egter roeringe onder die vervaardigers wat tans buite die toptien val. Mazda (1 180) is 'n kortkop voor Suzuki se 1 103 verkope. Allerweë word verwag dat die nuwe Jimny die bordjies gaan verhang. Weens die wêreldwye aanvraag, sal Suzuki hier egter gelukkig wees om 200 eenhede van die nuweling in die hande te kry. Ek verwag dat Suzuki Mazda in November sal verbysteek en reeds vir Mercedes-Benz in sy visier het.
Jaguar/Land Rover se totaal was 401 waarvan die Jaguar-handelsmerk se 122 verkope bykans twee keer meer as Lexus was.
Volvo spook steeds om 'n noemenswaardige totaal te behaal en sy 212 totale verkope behoort so by 300 per maand te wees.
Onder die invoerders van über-luukse voertuie het Bentley goed gevaar met 'n indrukwekkende 10 verkope, Porsche op 'n uitsonderlike 178 wat waarskynlik 'n nuwe rekord is, en vyf verkope elk vir Maserati en Ferrari. Niemand het egter die puik Audi A8 aangeskaf nie.
Intussen het die wêreldwye ekonomiese opswaai 'n positiewe uitwerking op Suid-Afrikaanse voertuiguitvoere. Daar word verwag dat 385 000 eenhede vanjaar uitgevoer sal word teenoor 'n aanvanklike raming van
340 000 eenhede. Hou egter in gedagte dat 'n land soos Australië - met 'n bevolking van 21 000 000 - elke jaar 'n miljoen voertuie binnelands verkoop ondanks 'n bevolking die helfte so groot as Suid-Afrika.
TOPTIEN PASSASIERMOTORS
- Volkswagen Polo Vivo - 3 009
- Volkswagen Polo - 2 824
- Toyota Corolla/Auris/Quest - 1 879
- Toyota Yaris - 1 729
- Toyota Fortuner - 1 178
- Hyundai Grand i10 - 900
- Ford Fiesta - 888
- Toyota Etios - 885
- Ford Figo - 840
- Kia Picanto - 781
TOPTIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE
- Toyota Hilux - 3 352
- Ford Ranger - 2 575
- Nissan NP200 - 1 879
- Isuzu KB - 1 636
- Toyota Quantum - 1 483
- Nissan NP300 - 704
- Hyundai H-100 - 384
- Volkswagen Amarok - 247
- Volkswagen Caddy - 245
- Mahindra Scorpio Pik Up - 200
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'