MOTORNUUS - Verlede Saterdag het van die beste en vinnigste renmotors in Oudtshoorn saamgetrek vir die jaarlikse Richard Griessen Klein-Karoo-kampioenskappe.
140 renmotors het in 10 klasse ingeskryf. Die renne was uit die boonste rakke. Daar was met tye lang vertragings omdat die wind die baan gou droog gewaai het, met die gevolg dat die watertrok die baan dikwels moes natmaak, wat weer modder veroorsaak het, maar nieteenstaande was goeie wedrenne aan die orde van die dag.
Heelparty motors het teen die muur beland met erge skade, en een motor se hele dak het afgebreek, maar sonder ernstige beserings.
George se Cornel Nortjé het sy Golfie op die hoogste trap in die ontwikkelingsklas gesit. Nou moet hy volgende jaar hard werk om daardie volstruiseier met sy kar se foto op weer te wen. Marius Wagner was tweede met Shaun Rheeder in derde plek.
Die 1660-klas is skitterend deur Tersius van Tonder met sy haastige Ford Fiesta gewen. Mosselbaai se vlieënde spietkop, Wayne Skinner was tweede met sy Golf, en derde Ruan Mostert.
Die opwindende Heavy metal-klas is gewen deur George se Sydney van Rensburg, met William Steyn in `n uitstekende tweede plek. Steyn het verlede jaar sy droom om `n eier met sy kar op te wen, verwesenlik. Corné Oosthuizen was derde, almal in BMW`s.
Cornel Nortjé van George het bestendig gery met sy Golf en die ontwikkelingsklas skitterend gewen. Foto's: Francois Germishuys
Die gewilde V8-klas is deur Manfrid Oehl van Worcester met sy Lexis Flexi gewen. Pieta Victor van Port Elizabeth was tweede, ook in 'n Chev Flexi, terwyl Fanie du Preez derde plek verower het.
Die 2.1-gemodifiseerdeklas is gewen deur Alistar Simpson, wat dit die afgelope naweek opgevolg het met 'n tweede plek in Worcester. Malcom Els was tweede en Christopher Burisch derde.
Tiaan Putter het die Hotrod-klas syne gemaak met sy opwindende Mazda Rx8. Hansie Moore was tweede met sy Ford Fiesta, en derde plek het behoort aan Quinton Ellard.
Die Midgets was in twee klasse verdeel, `n A- en B-klas, met 'n meer gemodifiseerde A-klas. Die A-klas is deur Schalk Swart gewen en in die B-klas het Gerrie Slabber koning gekraai.
Alistar Simpson het skitterend gery en die 2.1-klas met sy Opel Corsa gewen.
In die Sprintkar-klas - wat insluit die Midgets en enkelsitplek buisrenmotors - is sterk V8-enjins gepas. Omdat hulle wiele oop is, kan hulle maklik teen mekaar opklim - `n modderreën vir mense langs die baan. Die klas is gewen deur Kenny Gouws, met Graham Parkins tweede, en Daleen, Gouws se vrou, in die derde plek.
Die Stockrods-klas is gewen deur Johan Joubert en Qudo de Wet was tweede.
In die Pinkrod-klasse het die vroue hulle staal teen mekaar gewys. In die 1660-afdeling, was Charné Schuin die wenner met Annuschke Landman in tweede plek.
Die Pinkrod 2.1- en Hotrod-afdeling is gewen deur Kelly Dowling, Amy Naude was tweede en Amy Storm derde in haar pragtige Audi TT.
Tersius van Tonder het 'n pragvertoning in die 1660-klas in sy haastige Ford Fiesta gelewer.
Die Pinkstock-klas is deur Oudtshoorn se Tyler Mansfield verower, met Charlene Anderson tweede en derde plek is ingeneem deur Vicky Meyer.
• Dit is gepas om vir Dirk van der Westhuizen, voorsitter van die Oudtshoorn-motorklub, sowel as vir Bennie Greyling, voorsitter van die George-motorklub, te bedank vir hulle puik werk om ovaalbaanwedrenne tydens die grendeltyd aan te bied sodat aanhangers hulle plaaslike helde in aksie kan sien - al is dit net op skerms in hulle huise.