GEORGE NUUS - Die 22ste George-oumotorskou, ondersteun deur Oakhurst Versekerings-maatskappy, vind op 10 en 11 Februarie plaas. Mercedes Benz, die motormaatskappy met die kenteken van die kenmerkende driepunt ster, is simbool van kwaliteit motors wat wêreldwyd erkenning geniet.
Die maatskappy het 'n ryk en interessante geskiedenis wat oor dekades strek. Johan Lourens, voorsitter van die Mercedes Benz-klub in die Suid-Kaap, vertel meer oor die vroeë geskiedenis van Mercedes Benz.
Karl Benz het in Januarie 1886 die eerste voertuig met 'n petrol-aangedrewe, binnebrandenjin, die Benz Patent Motorwagen (BPM), ontwerp en gepatenteer. Volgens Lourens is die BPM deur Bertha Benz gefinansier is.
'n Replika van die BPM, een van slegs tien ter wêreld en wat behoort aan die Mercedes-Benz SA-fabriek in Oos-Londen, was die afgelope twee jaar een van die hoogtepunte by die George-oumotorskou.
Later in 1886 het Gottlieb Daimler en ingenieur Wilhelm Maybach ook 'n motor ontwerp. "Die voertuig was basies 'n perdekar met 'n petrol-aangedrewe enjin."
Die eerste Mercedes-voertuig is in 1901 deur die Daimler Motoren Gesellschaft (DMG) bekend gestel. Die volgende jaar (1902) het Emil Jellinek, 'n motorentrepreneur en sakeman wat betrokke was by DMG, die eerste Mercedes, sy dogter se naam, bekendgestel.
Dit was eers na die maatskappye van Karl Benz en Gottlieb Daimler in 1926 saamgesmelt het dat die bekende handelsmerk Mercedes Benz bekendgestel is.
Vandag is Mercedes Benz internasionaal bekend en die maatskappy vervaardig motors, busse, vragmotors, masjinerie en dies meer in verskeie lande. Mercedes-Benz SA vervaardig sedert 1955 ook voertuie in Suid-Afrika. Die W121, 190 Sedan, wat op 31 Januarie 1958 voltooi is, was die eerste voertuig wat hier vervaardig is. Tans word slegs die C-klas Mercedes-Benz hier gebou.
Mercedes is veral bekend vir die veiligheidsaspekte wat motors wêreldwyd veiliger maak.
Hier is 'n paar sulke voorbeelde:
• Dit was die eerste moderne motor wat nie meer soos 'n perdekar gelyk het nie
• In 1924 is die eerste motor met remme aan al vier wiele gebou
• In 1936 is die eerste diesel-aangedrewe passasiersvoertuig, die 260 D, gebou
• Die eerste enjin met brandstofinspuiting, die Mercedes Benz 300 SL Gullwing, is ontwerp
• In 1951 is die eerste Safety-Cell-konstruksie, waar die voor- of agterkant van die voertuig in 'n ongeluk opfrommel, ontwerp. Dit was seker die grootste veiligheidsdeurbraak in motorvervaardiging.
Ander veiligheidstoerusting soos vastrapbeheer, ABS-remme, lugsakke, elektroniese stabiliteitsprogram (ESP) word ook al jare lank in Mercedes-produksiemotors gebruik.
Die 2018 George-oumotorskou vind plaas by PW Botha Kollege. Koop nou al jou kaartjies aanlyn op die webblad www.scocc.co.za
Naweekkaartjies is teen spesiale pryse beskikbaar.
Nog 'n pragtige motor.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'