STILBAAI NUUS - Dis nie net swaar verkeer en reën wat teerpaaie beskadig nie. Ystervarke speel ook 'n rol om skade aan te rig.
Dit het juis op die teerpad na Stilbaai gebeur waar 'n motorbestuurder Maandag 12 Februarie 'n yslike gat in die pad opgemerk het.
By nadere ondersoek is opgemerk dat 'n ystervark se grawery vir die gat verantwoordelik was.
Die Hessequa-munisipaliteit en die Garden Route District Municipality het dadelik werk gemaak daarvan om die gat behoorlik uit te hol en met herstelwerk te begin om die gat op te vul.
Die finale afrondings sal teen Dinsdag 13 Februarie gedoen word.
Rdsl. Betsie van Noordwyk het 'n beroep op inwoners en motoriste gedoen om gate op hoofpaaie, wat 'n potensiële gevaar inhou, dadelik by die plaaslike munisipaliteit aan te meld voordat dit tot 'n ernstige ongeluk kan lei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’