WITSAND NUUS - Wat aanvanklik as 'n innoverende oplossing vir Witsand se wateruitdagings beskou is, het nou die middelpunt van 'n debat oor die bestuur, werking en volhoubaarheid van die dorp se sonkraggedrewe ontsoutingsaanleg geword.
Die VF Plus het onlangs kommer uitgespreek oor die toestand van die aanleg en beweer dat dit nie sy beoogde rol ten volle vervul nie.
Die party voer aan dat bestuurs- en instandhoudingskwessies by die Hessequa-munisipaliteit die doeltreffende werking van die aanleg belemmer.
Die munisipaliteit betwis egter hierdie weergawe en sê die aanleg is in volle werkende toestand, maar dat die bedryfs-model en die gehalte van die rivierwater in ag geneem moet word wanneer die werking daarvan beoordeel word.
Die Witsand-ontsoutingsaanleg is in 2018 ontwikkel as 'n oplossing vir die dorp se wateruitdagings.
Die aanleg, wat in Desember 2018 in gebruik geneem is, is volgens die beskikbare inligting ontwerp om met sonkrag 'n gedeelte van Witsand se drinkwaterbehoeftes te voorsien.
Die 66 kWp-sonkragstelsel kan tot 100 kiloliter drinkbare water per dag met sonkrag lewer, terwyl die aanleg met behulp van elektrisiteit uit die netwerk tot 300 kiloliter kan produseer.
Besware oor instandhouding
Volgens die VF Plus is die aanleg tans nie ten volle operasioneel nie.
Die party beweer onder meer dat batterye vir die sonkragstelsel sedert die oprigting daarvan nooit geïnstalleer is nie en dat die aanleg tans nie oor 'n werkende kragtoevoer vanaf die sonkragstelsel of Eskom beskik nie.
Die party beweer ook dat die waterpomp tydens die Breederivier-vloede van 11 en 12 Mei nie betyds verwyder is nie, wat na bewering skade aan kragkabels veroorsaak het.
Verder word beweer dat die waterinlaatpyp deur sand en modder toegespoel is.
Die VF Plus beweer voorts dat sowat R3,5 miljoen oor die afgelope twee jaar aan instandhouding bestee is, terwyl die aanleg steeds nie volgens die party se inligting ten volle funksioneer nie.
Die party verwys ook na die gebruik van watertenkwaens om gedurende die Desember 2025/Januarie 2026-vakansieseisoen water na Witsand te vervoer.
Munisipaliteit verduidelik werking
Hessequa-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Albert de Klerk, en munisipale ingenieur, Werner Manho, het aan Suid-Kaap Forum verduidelik dat die aanleg volgens hulle in 'n volle werkende toestand is.
Volgens die munisipaliteit is die aanleg 'n hibriede stelsel wat van sowel sonkrag as elektrisiteit gebruik maak, aangesien dit ook snags moet kan funksioneer.
Die munisipaliteit sê die oorspronklike Franse model waarvolgens die aanleg gebou is, het nie vir batterye voorsiening gemaak nie.
Die munisipaliteit sê verder dat die aanleg water uit die Breederivier onttrek.
Gedurende die winter en reënseisoen kan die rivierwater volgens die munisipaliteit besonder modderig en vuil wees.
Dit maak die ontsoutingsproses moeiliker en kan die membrane wat in die proses gebruik word, beskadig.
Om dié rede word die aanleg volgens die munisipaliteit gedurende die wintermaande en reënseisoen nie gebruik om water te produseer nie, genoegsame water word gedurende hierdie tydperk vanaf Overberg Water na Heidelberg, Witsand en Port Beaufort voorsien.
Die munisipaliteit sê die oorspronklike Franse ontwerp is intussen aangepas na 'n Suid-Afrikaanse model wat die proses meer bekostigbaar maak.
Toegang
Toegang tot die onttrekkingspomp uit die Breederivier is tans 'n regsgeskilpunt met die grondeienaar en kan die munisipaliteit nie kommentaar lewer nie.
Aanleg bly belangrike waterbate
Die debat oor die aanleg kom teen die agtergrond van Witsand se geïsoleerde ligging en beperkte waterbronne.
Die dorp se klein bevolking en afstand van groter dorpe maak groot nuwe waterinfra-struktuurprojekte duur, terwyl die Breede-rivier en die see 'n potensiële bron van water bied.
Water word voortdurend gemonitor
Volgens die munisipaliteit word Witsand se water voortdurend gemonitor en deur-
lopende elke twee weke watertoetse gedoen.
Volgens die munisipaliteit word die ontsoutingsaanleg tydens noodsituasies en vakansietye aangeskakel.
Die kern van die dispuut is dus nie of Witsand 'n wateruitdaging het nie, maar eerder hoe die ontsoutingsaanleg bedryf behoort te word en wanneer dit ekonomies sinvol is om dit te gebruik en die beste moontlike waarde vir die gemeenskap te lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’