RIVERSDAL NUUS - Twee gelukkige wenners het Saterdag 1 Junie met groot pryse in SWD Petroleum se 'Bumper Sticker'-kompetisie weggestap.
Elkeen wat die afgelope drie maande by die onderneming brandstof ingegooi het, het outomaties ingeskryf. Sowat 25 van meer as 200 kliënte wat deelgeneem het, het om 11:00 op die onderneming se perseel by die skouterrein nader gestaan om uit te vind of hulle dalk iets gewen het.
Naas Verwey se naam is eerste getrek en hy kon kies tussen 'n braaier ter waarde van ongeveer R1 200 en 'n roker ter waarde van nagenoeg R2 000. Louis Wessels het die braaier gewen.
SWD Petroleum, wat brandstof, gas en olie verkoop, het in 1997 tot stand gekom. "Ja, ons wil geld maak, maar dis lekker om terug te ploeg om dankie te sê vir ons kliënte se lojaliteit," het Pieter Toua, skakelpersoon, gesê terwyl die kliënte 'n worsbroodjie en sap geniet. "Ons glo dit gaan 'n geseënde jaar vir landbou, waarby ons almal direk of indirek betrokke is, wees."
Nico Nel, operasionele bestuurder, het sy kollegas bedank vir hul werk. "Julle is 'n merkwaardige span wat deel vorm van die groter prentjie.
Dis 'n voorreg om God se onverdiende genade te ervaar. Ons is al 22 jaar deel van die boeregemeenskap en dit is nie altyd vir hulle maklik nie. Tog is hulle die spil waarom alles draai."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'