Update
RIVERSDAL NUUS - Die gemeenskap is in rou gedompel ná die dood van 'n 17-jarige seun by die Dibiki-toerismeoord in Riversdal.
Hy het na bewering op Oujaarsdag in 'n swembad daar gesterf.
"Die Riversdal-polisie het 'n geregtelike doodsondersoek geopen na die dood van 'n 17-jarige seun by 'n swembad in Riversdal op Dinsdag 31 Desember 2024," bevestig sers. Christopher Spies, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.
Hy sê volgens beskikbare verslae is die polisie omstreeks 13:30 na die toneel gestuur nadat die seun uit die water gehaal is. Met die polisie se aankoms is die seun deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Daar word beweer hy was saam met vriende by die swembad ten tyde van die voorval.
"Dit is nog nie bekend wat presies gebeur het nie. Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die seun se dood bepaal. Geen gemene spel word egter vermoed nie," sê Spies.
Suid-Kaap Forum het dié feite in die aanlynberig op 1 Januarie 2025 gedeel.
Sedertdien het alle hel daaroor losgebars.
'n Politieke aktivis blameer die munisi-paliteit en die oord.
Hy bevraagteken die protokols in plek en beweer nalatigheid. Hy eis aanspreeklikheid en moontlik gepaardgande vervolging.
Die inskrywings op sosiale media verteenwoordig hartseer en skok, maar ook woede en verwyte.
- "Die koerant en oord het onsimpatiek opgetree!" - Dit is onwaar.
- "Hulle kan ons R30 - selfs vir 'n baba - vat, maar hulle kan nie ons kinders beskerm en 'n lewensredder bekostig nie!" – Almal betaal R30.
"Dit is bekend dat Dibiki, as 'n private swembad nie volgens wet verplig word om 'n menseredder in diens te hê nie.
"Die veiligheidregulasies op die perseel is duidelik sigbaar en dui ook aan mense gebruik die swembad op eie risiko."As dit een van hulle kinders was, sou dit ánders gewees het."
Een van die inskrywings spreek kommer uit oor die trae reaksietyd van die ambulans- en nooddienste.
"Die gemeenskap het alles moontlik probeer doen, tot die einde toe - terwyl ons eindeloos op professionele hulp gewag het," volgens 'n ooggetuie.
Mart-Marie Pretorius, die bestuurder by die Dibiki-vakansieoord, sê almal is erg geskok oor dié ongelukkige gebeure. "Ons win nog die regte inligting in en sal kommentaar lewer wanneer al die feite bekend is.
"Ons kan nie by oningeligte Facebook-reaksies betrokke lewer nie. Die polisie-ondersoek duur voort en ons mág eers kommentaar lewer ná die amptelike verslag bekend gemaak word."
Dit is die eerste voorval van dié aard sedert die munisipaliteit die Takkieskloof-oord in 2019 geprivatiseer het en deur Dibiki bestuur word.
• Suid-Kaap Forum het kommentaar van die Hessequa-munisipaliteit versoek; weliswaar met geen reaksie teen spertyd nie.
• Suid-Kaap Forum het met meegevoel aan die seun se moeder uitgereik en haar om kommentaar genader, maar sy het in dié tyd van rou - met begrip en deernis aan haar - nie daarop gereageer nie.
• Lees gerus al die kommentaar op Suid-Kaap Forum se Facebookblad.
Hulp vir begrafnis
Die familie versoek op sosiale media die gemeenskap se hulp met die seun, wat tragies op Oujaarsdag gesterf het, se begrafnis.
Daar is behoefte aan tien bottels 750g tamatiesous, ses bottels chutney, drie groot potte mayonnaise, veertig pakke noedelskroewe en agt sakke aartappels.
• Bied asseblief hulp by 076 867 6354 aan.
• Die begrafnis is Saterdag 11 Januarie om tienuur by die Lutherse kerk.
Die swembad by die Dibiki-toerismeoord in Riversdal waar 'n 17-jarige seun op Oujaarsdag verdrink het.
Hulde aan 'n "sagte, blouoogseun"
Grant Riddles, die Hessequa-munisipaliteit, se uitvoerende burgemeester, sê:
"Dit is met diep hartseer dat ons die verlies van Marius de Vlam, een van ons talentvolle jong atlete (aan die Gerrit du Plessis Sekondêre Skool) wat tragies verdrink het, moet betreur. Ons gedagtes en gebede is met sy familie, vriende en spanmaats in dié hartverskeurende tyd.
Die verlies van so 'n jong, belowende lewe is 'n groot slag vir ons gemeenskap. Mag sy nalatenskap en die herinneringe aan sy passie en talent ons inspireer om voluit te leef. Hy sal onthou word as 'n respekvolle en rustige seun met 'n sagte gees."
Foto's: CJ de Swardt
Vorige artikel: Oujaar-swem eis blouoogvlam
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’