RIVERSDAL NUUS – Die gemeenskap is in rou gedompel oor die dood van die 17-jarige Marius Devlam, 'n vaartbelynde sportman.
Hy het op Oujaarsdag in 'n swembad by die Dibiki-toeristeoord verdrink. Hy was 'n kranige sportman en belowende landloopatleet aan die Gerrit du Plessis Sekondêre Skool.
Inskrywings op sosiale media beskryf hom as “'n pragtige blouoogseun met die mooiste maniere” en “'n jongman met 'n blink sportloopbaan in die vooruitsig.”
Sy vriende is glo erg getraumatiseer.
“Die Riversdal-polisie het 'n geregtelike doodsondersoek geopen na die dood van 'n 17-jarige seun by 'n swembad in Riversdal op Dinsdag 31 Desember 2024,” bevestig sersant Christopher Spies, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.
Hy sê volgens beskikbare verslae is die polisie omstreeks 13:30 na die toneel gestuur nadat die seun uit die water gehaal is. Met die polisie se aankoms by die Dibiki-toeristeoord is die seun deur paramedici op die toneel dood verklaar. Daar word beweer hy was saam met vriende by die swembad ten tyde van die voorval.
“Dit is nog nie bekend wat presies gebeur het nie, maar geen gemene spel word vermoed nie,” sê Spies.
Die 17-jarige Marius Devlam was 'n kranige sportman en belowende landloopatleet aan die Gerrit du Plessis Sekondêre Skool in Riversdal.
Mart-Marie Pretorius, die bestuurder by die Dibiki-vakansieoord, sê: “Namens die Dibiki-bestuur wil ons graag ons innige meegvoel met die breë familie en vriende deel. Baie dankie aan alle rolspelers wat op die toneel was en die regte protokol gebruik het en alle wetlike stappe geneem het ná die voorval. Ons het besluit om die swembad op 1 en 2 Januarie toe sluit om ons medelye te betoon. Die swembad sal weer Vrydag 3 Januarie oop wees vir gebruik.”
Dit is eerste voorval in vyf jaar onder die oord se bestuur.
* Suid-Kaap Forum sal in die uitgawe van 10 Januarie 2025 volledig hieroor berig. Ons respekteer sy familie se privaarheid in dié tyd van rou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’