WES-KAAP NUUS - Die petrolprys het al wéér gestyg en mens kan nie help om te wonder wat sal oorbly vir jou kosmandjie nie.
Woensdagoggend, 7 Oktober, gaan Suid-Afrikaners weer ’n bietjie dieper in hul sakke moet delf wanneer hulle by die petrolpomp stilhou, en hierdie keer is dit nie net ’n paar sent wat verdwyn nie.
Vir die gemiddelde huishouding eindig die werklike rekening egter nie by die vulstasie nie.
So gebeur iets wat Suid-Afrikaners al hoe beter begin ken: die petroltenk word voller, maar die koswaentjie word leër.
Wat haal jy eerste uit die trollie?
Dit is waarskynlik nie die brood en melk wat eerste verdwyn nie.
Dit is die klein luukshede.
Die duurder stuk vleis word dalk verruil vir maalvleis.
’n Blok kaas en die pakkie koekies wat gewoonlik sommer saam met die brood in die trollie beland, bly net so staan op die winkelrak.
Die probleem is dat daar net soveel plek is om te sny.
’n Gesin kan nie maklik minder elektrisiteit gebruik nie en met die vooruitsig dat elektrisiteit met 8% gaan styg, wonder almal waar verbruikers nog kan sny.
Die brandstofrekening loop soos ’n onsigbare draad deur die ekonomie.
Wanneer vervoer duurder word, kom die druk uiteindelik by besighede en verbruikers uit.
Die jongste verhoging word hoofsaaklik toegeskryf aan hoër internasionale oliepryse, onder meer weens spanning rondom die Midde-Ooste, onsekerheid oor olievoorsiening en hoër verskepingskoste.
En terwyl wêreldpolitiek vir die gewone verbruiker ver weg voel, is die uitwerking daarvan op ons lewens baie naby.
Dit lê op die winkelrak, dit staan op die kasregister se skerm en dit sit in jou kaartgevulde beursie.
Die petrolprys gaan môre op, dis ’n feit soos ’n koei.
Die vraag is nou net: wat gaan jy uit jou kosmandjie haal om vir jou petroltenk plek te maak?
Die aanpassing aan pryse vanaf Woensdag is soos volg:
- 93-petrol (ULP & LRP): R3,12-verhoging
- 95-petrol (ULP & LRP): R3,33-verhoging
- Diesel (0,05% swael): R2,84-verhoging
- Diesel (0,005% swael): R3,24-verhoging
- Verligtingsparaffien (groothandel): R3,58-verhoging
- Enkele maksimum nasionale kleinhandelsprys vir verligtingsparaffien: R4,77-verhoging
- Maksimum kleinhandelsprys van vloeibare petroleumgas: 42c-verhoging en 48c-verhoging in die Wes-Kaap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’