STILBAAI NUUS - Die immergewilde vyfde Stilbaai-boekefees het Vrydag, 27 Februarie, in die pragtige skoolsaal van Melkhoutfontein Primêr afgeskop. Die gewilde kinder- en jeugboekskrywers, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen het met leerders van graad 1 tot 5 gesels.
Leerders van Melkhoutfontein Primêr en Paideia in Stilbaai het geskaterlag vir Jaco en Fanie se manewales. Die twee skrywers het met hul aansteeklike energie die saal behoorlik laat lewe kry en die jong gehoor vasgenael gehou met stories, humor en kreatiewe insette.
Daarna het Sisca Julius by die twee aangesluit om met leerders van graad 6 tot 12 te gesels oor boeke, skryf en lees. Nadine Petrick het as gespreksleier opgetree. In hierdie sessie het Sisca op haar kenmerkende manier die leerders op die punte van hul stoele gehad, met uitbundige gelag wat deur die saal weergalm het.
Dit was werklik 'n uitstekende afskop vir die boekefees en het gedui op groot dinge wat voorlê. Tog was dit vir die organiseerder van die fees, Elna van der Merwe, 'n groot teleurstelling dat slegs Melkhoutfontein Primêr en Paideia die geleentheid bygewoon het.
Die fees duur regdeur Saterdag voort met 'n verskeidenheid interessante gesprekke in die Stilbaai-gemeenskapsaal. Kaartjies is by die deur beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’