RIVERSDAL NUUS - Vroulike vrolikheid lok besoekers na die Geel Mossie se Opwip-feesgalery!
Marlise Lombard, Elzett Kotzé, Isabel du Toit, Liza Naudé, Julie Wilson, Janet Muller, Rivkah van der Merwe en die pottebakker Robyn Learmonth stal hier saam met die manne - Danie Cronjé, James Stanley, Kieth Grieve en Koos Gagiano - oor die 250 kunswerke uit.
Marilise Lombard, die mede-organiseerder en galery-inkleder, nooi: “Riversdal is ‘n lekker plek. Dis 'n plek om niks te doen nie, maar dit is ook ‘n plek waar jy álles kan doen wat na-aan die natuur is... Op 'n berg staan, fynbos kan pluk – én om kuns te ervaar.
Dit is die bekoring van Riversdal. Kom, kyk na skilderye oor die natuur, mense, diere en musiek. Verpoos tussen skeppings van kleur en innerlike vreugde en dié dorp se gehalte-lewenstyl. Die kunswerke uit ons omgewing is elkeen enig in sy soort.
Daar is werke in olieverf, waterverf, spuitverfkuns, ink: ‘n kleurespel.
Daar is kinderkuns, grootmenskuns, abstrakte kuns en storiekuns: tesame, 'n lewensviering!”
Dié galery is geëerd om 'n aantal van die internasionaal-erkende kunstenaar Julie Wilson (78) se botaniese waterverfwerke te kon bekom.
Met kunsopleiding by internasionale tydgenote en as ‘n geesdriftige amateur-plantkundige skep sy werke wat regoor die wêreld opgeraap word en met die hoogste erkenning bekroon is. Sy het lank in die buiteland gewoon en gewerk. Van haar ontwerpe verskyn op buitelanse muntstukke en is in internasionale botaniese kunspublikasies gepupubliseer.
Sy het in 2012 teruggekeer Suid-Afrika toe en woon sedertdien in Riversdal, waar sy inspirasie uit die omgewing se inheemse plantegroei - én haar eie spogtuin - put.
Vir elke kunstenaar beteken kuns iets ánders - maar almal fokus op die siel van kreatiwiteit - waarin die waarheid tussen die soms ontstellende werklikheid en ontvlugting in versagtende fantasie seëvier.
Dit is 'n wêreld van kleur, inspirasie en vreugde!
“Ek is 'n passievolle kunstenaar en word aangetrokke tot alles wat mooi is. Skoonheid inspireer my werk. My kuns leun na die abstrakte. Ek meng lewendige kleure en dinamiese vorms om emosie, energie en verbeelding vas te vang. Vir my is kuns nie net 'n tydverdryf nie: dit is 'n manier om my hart uit te stort en 'n stukkie van myself met ander te deel,” sê Lizett Kotzé.
Janet Muller, die sakevrou, kunstenaar, einenaar en organiseerder van die feestelike Geel Mossie-opwipgalery, onthou sy het kleintyd 'n pak slae gekry omdat sy prentjies op haar klere geteken het. “Ek het nog altyd in kleur gedroom. Ek glo ons almal het ‘n kunsstreep in ons DNS. Dis maar soos ‘n spier wat jy moet oefen. Hoe meer jy kuns, hoe beter word jy. Kuns maak heel. Kuns bring eenheid. Dit vertel ‘n storie, wat in geen woorde beskryf kan word nie.”
* Die Opwip-kunstentoonstelling duur nog tot 22 Desember by die Geel Mossie, Langstraat 23 (op die hoek van die Ou Tronk). Van tienuur soggens tot vieruur smiddae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’