RIVERSDAL NUUS - Die Voortrekkers het Woensdag 30 September ’n besondere mylpaal gevier toe dié jeugbeweging sy 95ste bestaansjaar herdenk het.
Tielman Roos, kommandoleier van die Riversdal Voortrekkerkommando, het ter viering van die geleentheid aan Suid-Kaap Forum gesê die organisasie kyk met dankbaarheid terug op ’n geskiedenis wat reeds in 1931 begin het.
“Vyf-en-negentig jaar se mense.
Vyf-en-negentig jaar se herinneringe.
Vyf-en-negentig jaar se leer, dien, lei en saamdoen.
Vyf-en-negentig jaar van lig wat van een geslag na die volgende aangegee word,” lui die boodskap waarmee die verjaardag gevier is.
Volgens Roos gaan die Voortrekkers oor veel meer as kentekens, kampe, kampvure en staproetes.
Dit bied aan jongmense ’n omgewing waarin hulle vaardighede aanleer, verantwoordelikheid aanvaar, ander dien en hul leierskap ontwikkel.
Die organisasie se geskiedenis vertel volgens die verjaarsdagboodskap van duisende kampvure, tente wat selfs in die reën opgeslaan is, kilometers wat gestap is en vriendskappe wat oor dekades heen gevorm is.
Dit vertel ook van kinders wat binne die beweging grootgeword en later self leiding begin neem het, asook talle volwassenes wat deur die jare hul tyd en kennis beskikbaar gestel het om ’n volgende geslag toe te rus.
Die Voortrekkers se tema vir 2026, “Voortrekkers as ligdraers in die wêreld”, sluit volgens die organisasie aan by die lig wat 95 jaar gelede aan die suidpunt van Afrika aangesteek en sedertdien van geslag tot geslag aangegee is.
“Vandag kyk ons met dankbaarheid terug na die pad sedert 1931 - maar ons kyk ook vorentoe. Die volgende avontuur. Die volgende kind wat ontdek: Ek kan. Ek behoort. Ek wil ’n verskil maak.”
Die boodskap aan die Penkoppe, Drawwertjies, Verkenners, Staatmakers, offisiere, ouers en oud-Voortrekkers is eenvoudig: “Lekker verjaar!”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’