HESSEQUA NUUS - Terwyl die grootmense wag op die uitslag van hul inkkruisies ná vandeesweek se Suid-Afrikaanse verkiesing, oefen die kleintjies om met verf hul merk vir die toekoms te maak.
Die ink op jou linkerduim wou verseker jy kan nie nog ‘n kans kry om te stem nie, maar die kleur waarmee die streek se jong leerders kreatiwiteit beoefen, gaan hulle almal die geleentheid bied om talle toekomstige kanse te kan benut.
Met hul talent en verf gaan hulle nog baie kanse kry.
Twee van die Hessequa-kunsroete se oor die honderd kunstenaars het in Stilbaai toekomstige skilders in die kuns van verfgebruik geskool.
Sonja Margerison en Marisa de Lang het ‘n aantal aspirante, danksy ‘n borgskap vir Dala-verf deur die Hessequa-munisipaliteit, in afslag-samewerking met Nieu-Script op Riversdal, geleer hoe om verf te meng en daarmee mooi prentjies te skep.
Hulle oefen vir die Hessequa-kunsroete se vierde Kinderkunskompetisie - met die tema “Vier seisoene in Eden se tuin.”
Hulle kies om deur middel van kuns troostende, strelende en vrolike skoonheid te skep, wat geluk, vreugde, vrede en voorspoed, hoop, geloof en liefde, deernis en omgee deur die seisoene van die natuur - en die lewe - te vier. In hierdie spontane onskuld word 'n toekoms in twee handpalms gekoester.
En, eendag, wanneer ons groot is, moet ons ook 'n verkiesingkruisie gaan trek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’