RIVERSDAL NUUS - Enige hulpmiddel om woelige kinders dop te hou is welkom, veral by 'n sorgsentrum.
'n Geslotekringtelevisiestelsel is egter duur en 'n plek soos die Small Dreams-sorgsentrum vir kinders met spesiale behoeftes se inkopielys is lank.
Twee sakemanne van die dorp, Charl Avenant, eienaar van Langeberg CCTV en Waldrich Koen, eienaar van 3@1, het dié nood raakgesien en besluit om iets daaraan te doen.
Volgens Avenant en Koen wou hulle iets aan die Riversdal-gemeenskap wat hul besighede ondersteun, teruggee. Kinders en hul veiligheid het 'n spesiale plek in die twee manne se harte en saam het hulle gesorg dat 'n televisie-moniteringstelsel net voor die Junie-skoolvakansie geïnstalleer is. Marius Engelbrecht wat die fisiese installasie gedoen het, reken dit was groot pret. Hy het sommer ook 'n verjaarsdagpartytjie saam met die kinders bygewoon.
Die prinsipaal van Small Dreams, Tammy Kleynhans, is baie opgewonde oor die toevoeging tot die perseel se sekuriteit. Die sentrum word privaat bedryf en hulle is dankbaar vir alle skenkings. Hulle is reeds as nie-winsgewende organisasie geregistreer en is besig met registrasie as opvoedkundige mediese inrigting by die nasionale departement van gesondheid.
Hul grootste behoefte op die oomblik is aan vrywilligers wat een maal per week kan help met onderrig in basiese kosmaak, asook iemand om 'n jong meisie te leer naaldwerk doen. Daar is ook 'n 15-jarige seun wat 'n vorm van handwerk of ambag geleer moet word sodat hy vir homself kan sorg wanneer hy die sentrum verlaat.
Verder kan enigiemand wat bereid is om een keer per week die terrein netjies te maak en in stand te hou, ook met Kleynhans in verbinding tree. Sy kan bereik word by 082 898 4246 of per e-pos by tammy@small-dreams.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'