Update
HEIDELBERG NUUS - Ant Kandas het van 'n gewone vrou na 'n kleurvolle en grapperige storieverteller op Eden-radiostasie ontpop.
Sy vertel dat sy jare gelede toe sy nog jonk getroud was, vir haar 'n draadlosie gekoop het. Dis voor televisie se tyd en dit was al die jare haar geselskap omdat haar man, Sam, weg gewerk het.
Toe die radiostasie in 2007 op die lug kom, het sy bewus geraak van die inbelprogram. Sy het die program baie geniet en het elke dag 'n boodskappie ingebel. Die luisteraars het van haar stories oor haarself en haar outjie gehou, oor toe hulle nog jonk was en hy met die silwer fiets agter haar aan Witsand toe gery het. Dit het ander mense aangespoor om ook in te bel.
Sy het baie gou 'n gereelde inbeller geword en dan het die omroepers haar sommer 'n tydjie aan die gesels gehou. Dit is waar sy baie meer lugtyd as die ander mense geniet het. Al haar stories was oor haar kinderjare tot nou, as afgetrede pensioenaris.
Mense van verskillende dorpe in die Eden-distrik soos Plettenbergbaai, George, Pacaltsdorp, Mosselbaai en Albertinia, wat Kaap toe ry, draai by Heidelberg in en vra waar Ant Kandas bly. Hulle wil haar in lewende lywe sien en met haar gesels.
Party vra ook haar handtekening om dit by hul huise te gaan wys.
Mense kan altyd 'n lessie uit haar stories en vertellings leer. Sy het alleen grootgeword, maar het nooit alleen gevoel nie, want hulle was 'n groot familie wat baie goed met mekaar oor die weg gekom het.
Sy het op 'n baie jong ouderdom getrou met die vriend waaroor sy in haar stories vertel het. Sy is vandag 'n baie gelowige kerkvrou, 'n inspirerende persoon en iemand wat baie omgee vir haar medemens.
Lees 'n vorige artikel: Van huisvrou tot bekende
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'