Update
RIVERSDAL NUUS - Saterdag 11 April, begin vanjaar se Ultra Trail Sleeping Beauty (UTSB) bergwedloop by Windhoekgasteplaas net buite Riversdal.
Opwinding is reeds tasbaar in die dorp namate deelnemers en ondersteuners hul gereed maak vir dié gewilde geleentheid.
Inskrywings het vanjaar vinnig gevul en was teen die sluitingsdatum bykans 90% vol.
Atlete van regoor Suid-Afrika, sowel as deelnemers uit Namibië, gaan aan die wedloop deelneem.
Volgens die organiseerders sal 133 deelnemers die 10 kmroete aanpak, 142 die 20 km, 94 die 40 km en 44 dapper atlete die uitdagende 65 km-roete aandurf.
Die roetes beloof om nie net fisiek veeleisend te wees nie, maar ook besonder skilderagtig.
Die langer afstande neem deelnemers tot op die ikoniese Sleeping Beauty-piek, waar ’n spesiale foto as aandenking geneem word wat hulle by die eindpunt ontvang.
Nuwe roeteontwikkelings, insluitend die sogenaamde Mooi Paadjie en Boegoekloof, maak veral die 65 km-roete vanjaar nóg meer tegnies en visueel indrukwekkend.
Bekende name in die ultrahardloopwêreld, waaronder Robert Rorich, Caro Jordaan, Gabriel Kriel en Lodelia Kombrink, sal na verwagting aan die ultra-afstand deelneem en sorg vir strawwe kompetisie.
Die UTSB dien ook as die grootste fondsinsamelingsprojek van die Riversdal Voortrekkers, met alle opbrengste wat aangewend word vir die ontwikkeling en instandhouding van plaaslike stap- en bergroetes.
Die byeenkoms word in samewerking met verskeie rolspelers, insluitend CapeNature en die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat, aangebied.
Vorige berigte:
- Opgewondenheid bou op vir UTSB soos wedloop vinnig nader kom
- Opwinding bou vir tweede Sleeping Beauty Ultra Trail
- Inskrywings stroom in vir Ultra Trail Sleeping Beauty
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’