RIVERSDAL NUUS - Groot opwinding heers in Riversdal en omgewing vir die tweede Ultra Trail Sleeping Beauty (UTSB) wat op 11 April plaasvind, ná die reusesukses van die eerste aanbieding verlede jaar.
Die totstandkoming van die wedloop het reeds in 2025 'n groot hupstoot aan buitelugaktiwiteite in die streek gegee, toe sowat 24 km van bykans vergete bergpaaie weer oopgesny is.
Dit het nie net drawwers gelok nie, maar ook stappers en natuurliefhebbers wat nou gereeld die pragtige Langeberge en sy unieke fynbosdiversiteit besoek.
Die begin- en eindpunt van vanjaar se wedloop is weer by Windhoek Gasteplaas, wat skilderagtig tussen die voet van Slapende Skoonheid en die Korentepoortdam geleë is.
Korter roetes van 10 km en 20 km kronkel deur plantasies rondom die dam en bied asemrowende uitsigte.
Die uitdagende 42 km-roete neem deelnemers verby die historiese tolhuis in Garcia-pas en verder tot bo-op die ikoniese Sleeping Beauty-piek - 'n strawwe toets selfs vir ervare atlete.
Die roete volg daarna Oom Boet se pad en Rooiwaterspruit tot dit by die korter roetes (die 10 en 20 km-wedlope) aansluit.
Vir die ystermanne en -vroue wag die uiterste uitdaging, die 65 km-roete.
Hierdie deel sluit die onlangs heropende Boegoekloofpad in, wat vir meer as 20 jaar onbegaanbaar was.
Riversdal se Voortrekkers het egter die taak aangepak om ook hierdie nuwe deel van die roete betyds vir vanjaar se wedloop oop te sny, ongeveer 'n verdere 11 km!
Die Boegoekloof-deel word beskryf as een van die mees tegniese en veeleisende dele van die wedloop, met steil klowe en skerp draaie wat deelnemers se uithouvermoë tot die uiterste toets.
Deelnemers word egter beloon met asemrowende uitsigte oor Garciapas en die omliggende berge, asook verskeie waterpunte langs die roete.
Ondersteuners kan die drawwers by die tolhuis aanmoedig, wat as een van die beste toeganklike uitkykpunte beskou word.
Met uitdagende terrein, natuur-skoon van wêreldgehalte en groeiende belangstelling, beloof vanjaar se Ultra Trail Sleeping Beauty om weer 'n hoogtepunt op die plaaslike sportkalender te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’