RIVERSDAL NUUS - Opgewondenheid bou vinnig op vir vanjaar se Ultra Trail Sleeping Beauty (UTSB) wat op 11 April by Windhoek Gasteplaas, net buite Riversdal, aangebied word.
Met inskrywings wat reeds sowat 80% vol is, word belangstellendes aangemoedig om vinnig in te skryf voor die sluitingsdatum op 21 Maart, of vroeër, indien die wedloop uitverkoop raak.
Deelnemers kan kies tussen vier afstande, naamlik 10 km, 20 km, 40 km en 60 km.
Die langer roetes bied besondere uitdagings en neem atlete onder meer tot naby die ikoniese Sleeping Beauty-piek.
Bekende veldwedloopatlete soos Gabriel Kriel en Lodelia Kombrink sal na verwagting aan die strawwe 60 km-wedloop deelneem.
Nuwe roete-ontwikkelings sluit in die oopmaak van die sogenaamde “mooi paadjie” en Boegoekloof, wat die 60 km-roete vanjaar nóg meer tegniese en natuurskone bergpaadjies bied.
Die byeenkoms is die Riversdal Voortrekkers se grootste fondsinsamelingsprojek van die jaar, met alle opbrengste wat teruggeploeg word in die ontwikkeling en instandhouding van plaaslike wandel- en bergpaadjies.
UTSB is ’n ware gemeenskapsprojek en word in samewerking met plaaslike boere en besighede aangebied, asook vennote soos Mindful Runner, CapeNature, Gouritz-groepsbiosfeerreservaat, MTO en Hessequa-toerisme.
Na verlede jaar se sukses het die wedloop se reputasie wyd versprei, met inskrywings wat reeds van so ver as Jeffreysbaai, Kaapstad, Gauteng en selfs Namibië ontvang is.
Belangstellendes kan die projek verder ondersteun deur amptelike UTSB-sokkies voor 21 Maart aan te koop.
Vir meer inligting kan Anja Louw by 068 641 5891 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’