RIVERSDAL NUUS - Met opgewondenheid wat tasbaar in die dorp se lug hang, word die dae nou afgetel na vanjaar se Ultra Trail Sleeping Beauty (UTSB) bergwedloop wat op 11 April by Windhoek Gasteplaas net buite Riversdal plaasvind.
Inskrywings vir die gewilde byeenkoms het vinnig gevorder en was sowat 90% vol teen sluitingsdatum, met deelnemers van regoor die land - en selfs Namibië - wat hul hardloopplekke geboek het.
Vanjaar se deelnamegetalle spreek boek-dele: 133 atlete pak die 10 km-roete aan, 142 die 20 km, 94 die 40 km, en 44 dapper deelnemers gaan hul uithouvermoë toets op die strawwe 65 km.
Deelnemers kan uitsien na uitdagende en skilderagtige roetes, met die langer afstande wat tot op die ikoniese Sleeping Beauty-piek strek, waar 'n foto van hul geneem word wat hulle by die eindstreep sal ontvang.
Nuwe roete-ontwikkelings, insluitend die oopstel van die sogenaamde "mooi paadjie" en Boegoekloof, beloof om die 65 km-roete vanjaar nóg meer tegnies en vol van natuurskoon te maak.
Bekende atlete soos Robert Rorich, Caro Jordaan, Gabriel Kriel en Lodelia Kombrink sal na verwagting aan die ultra-afstand deelneem.
Die UTSB is die grootste fondsinsamelings-projek van die Riversdal Voortrekkers en alle opbrengste word teruggeploeg in die ontwikkeling en instandhouding van plaaslike wandel- en bergpaadjies.
Die byeenkoms word ook in samewerking met verskeie rolspelers, insluitend CapeNature en die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR), aangebied.
Volgens die organiseerders, Tielman Roos, Chrisman Louw en Anja Louw, is die wedloop meer as net 'n sportgeleentheid.
"Dit is 'n viering van gemeenskapsgees, deursettingsvermoë en die natuurskoon," het hulle gesê.
Die gemeenskap word aangemoedig om betrokke te raak - hetsy as vrywilligers, of as aanmoedigers by die eindstreep.
Amptelike UTSB-sokkies is ook beskikbaar vir dié wat die projek verder wil ondersteun.
Met net dae oor voor die wegspring, word deelnemers aangeraai om hul finale voorbereidings te tref.
Die roetes wag, die berge roep, en UTSB 2026 beloof om weer diep spore in die harte van almal betrokke te trap.
Anja Louw sweef hoog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’