HESSEQUA NUUS - Die munisipaliteit is besig om die voertuigtoetsstasie op Riversdal gereed te kry om weer op 1 Junie sy deure te open.
Volgens munisipale bestuurder, Johan Jacobs, is plakkers wat die vereiste afstand tussen mense van 1,5 m aandui, aangebring en kennisgewings oor die verpligte dra van maskers is opgesit. Handreinigingsmiddels sal by die ingange beskikbaar wees en besoekersregisters sal voltooi moet word deur elkeen wat die perseel besoek.
Diepreiniging van die kantore is ook aan die gang. Personeel sal roteer word om te verseker dat die kantoor nie gesluit hoef te word in die geval van 'n moontlike positiewe toets nie.
Jacobs sê provinsiale amptenare sal al die kantore in die Wes-Kaap besoek voor goedkeuring vir die opening gegee sal word.
• Michael Gallant van die Wes-Kaapse departement van vervoer en publieke werke het intussen die publiek gemaan om nie met sogenaamde tydelike padwaardigheidsertifikate gefop te word nie. Hy sê die geldigheid van sulke dokumente is vals nuus wat op sosiale media versprei word en motorhandelaars mag slegs sertifikate wat deur amptelike toetsstasies uitgereik is, aanvaar.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'