RIVERSDAL NUUS - Petro Vosloo (65), 'n merkwaardige vrou in die Riversdal-gemeenskap het op Dinsdag 21 Augustus haar stryd teen kanker verloor nadat dit in 2014 by haar gediagnoseer is.
Sy het aan die Hoërskool Montagu gematrikuleer en in die huwelik getree met sakeman, Charles Vosloo. Uit die huwelik is 'n dogter, Suzaan en seun, Esias gebore. Sy was die stukrag as administratiewe beampte en boekhouer agter CT Vosloo-bouers.
In 1978 sluit sy by die Vroue-Landbouvereniging aan en dien later as takvoorsitter, 'n taak wat sy met nederigheid aanvaar het.
In 2018 verwerf sy haar 40-jaar lidmaatskapknopie.
By die NG Moedergemeente was sy by fondsinsamelingsfunksies betrokke en het gereeld die pannekoektafel beman wanneer die kerk pannekoeke by die Ou Tronk se Saterdagmark verkoop het om die kerkkoffers te verstewig.
'n Dankseggingsdiens deur ds. André Jordaan, om die merkwaardige vrou se lewe van diensbaarheid aan haar Skepper, kerk en gemeenskap te vier, het op Saterdag 25 Augustus vanuit die Moedergemeente plaasgevind.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'