HEIDELBERG NUUS - James (Kosie) Meyers, bekende inwoner van Heidelberg is Donderdag 28 Mei in die vroeë oggendure oorlede.
Volgens een van sy seuns, Thomas, het Kosie (79) 'n paar jaar gelede 'n beroerte gehad. Hy was vir 55 jaar met sy tienerliefde, Dina, wat hy liefdevol as Babs aangespreek het, getroud. Hulle het twee seuns, 'n dogter, 10 kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Kosie was 'n messelaar en in 'n vennootskap met sy broers as boukontrakteurs. Hy was baie gewild vir sy hoë kwaliteit van vakmanskap. Hy was ook vroeër jare 'n rugbyspeler wat die destydse Young Stars-rugbyklub met groot trots verteenwoordig het. Voor sy gesondheid afgeneem het, was hy ook 'n ywerige gholfspeler en 'n aktiewe lid van die plaaslike gholfklub.
Kosie was 'n veelsydige musikant en 'n stigterslid van die Young Royal Shepherds Kersfeeskoor wat die viool, tjello en klarinet bespeel het. Hy het ook soms 'n 'kans' met die kitaar gewaag, maar altyd skertsend gesê dat hy hom nie daarvoor gaan uitgee nie.
Buiten sy vrou en kinders laat hy 'n broer en suster agter. Die begrafnisdiens vind Saterdag 6 Junie vanaf die huis en daarna vanuit die JF Neumann Memorial Congregational Church plaas. Teen saktyd was die tyd nog nie beskikbaar nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'