SLANGRIVIER NUUS - Slangrivier het 'n bekende en beminde inwoner aan die dood afgestaan. Freddie Fredericks (40), boorling van dié dorp, maar vir die afgelope twee jaar woonagtig in Wellington, het Woensdagaand 13 Junie kort na 22:00 aan longontsteking gesterf.
Volgens Veronica, sy eggenoot van 18 maande, is hy vroeër die middag uit die hospitaal op Paarl ontslaan omdat hulle niks meer vir hom kon doen nie. Hy is Saterdag 9 Junie in die hospitaal opgeneem.
Freddie was wyd bekend as gospelsanger en het gereeld met sy susterskind, Charnelle Hoogbaard, self 'n bekende gospelsanger, in verskeie dorpe in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap opgetree.
Charnelle se ma, Ina Hoogbaard, bekende radio-omroeper het vertel dat Freddie in sy laat tienerjare in sy long gesteek is. Sedertdien het hy asemhalingsprobleme ondervind. Dokters het hom glo nie 'n lang tyd gegee om te leef nie.
Hoogbaard noem verder dat Freddie sedert sy bekering in 2005 vas geglo het dat hy volkome genesing sal ontvang en het hy vriend en vyand met sy positiwiteit verbaas om 'n vol lewe te lei.
Ina vertel verder dat hy sy sangtalent eers in 2010 ontdek het, en het hy toe sy sangloopbaan begin.
Vele familielede, vriende en kennisse het hul medelye vir Veronica en Freddie se familie op veral sosiale media uitgespreek.
Buiten Veronica en Ina, laat Fredericks ook sy ma Sally, drie susters en een broer agter.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 23 Junie om 10:00 vanuit die plaaslike gemeenskapsaal plaas. Dit word voorafgegaan met 'n roudiens Donderdagaand om 19:00.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'