SWELLENDAM NUUS - ’n Groep sterk meisies van Hoërskool Swellendam gaan binnekort hul kragte teen van die wêreld se beste toutrekkers meet wanneer hulle Suid-Afrika by die 30ste wêreldtoutrekkampioenskap in Mosselbaai verteenwoordig.
Die skool se 480 kg-meisiespan het verlede week hul plek in die Suid-Afrikaanse span verseker en sal van 16 tot 19 September aan die wêreldkampioenskap deelneem.
Die kampioenskap bring toutrekspanne van regoor die wêreld na Mosselbaai, waar daar oor vier dae in verskeie gewigs- en ouderdomskategorieë om wêreldtitels meegeding sal word.
Die 480 kg-juniormeisiesafdeling, waarin die Swellendam-toutrekkers sal deelneem, is volgens die program vir Woensdag 16 en Vrydag 18 September geskeduleer.
Die span se deelname is ’n besondere prestasie vir Hoërskool Swellendam en bied die leerders die geleentheid om op internasionale vlak hul staal te wys terwyl hulle hul skool, gemeenskap en Suid-Afrika verteenwoordig.
Die span bestaan uit Aimée Herbert, Hanisha Fortuin, Inge van Wyk, Joané de Graaff, Johané Bester, Mari Rossouw, Lizelle Burger, Shamielah Titus, Marié van Zyl, Mimi van Zyl en Edward Fritz.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’