Update
STILBAAI NUUS - Stilbaaier Johan Oelofse is tans op 'n fietstoer om die lewe van sy oorlede vrou, Magriet wat op 29 Januarie vanjaar aan breinkanker dood is, te vier.
Johan het die fietstoer in Potchefstroom saam met Carin Duminy begin, wat haar dogter ook weens kanker verloor het.
Hulle het die reis op 4 Oktober begin. Carin het net tot op Colesberg saamgery en pak Johan die reis tot in Stilbaai alleen verder aan.
Die doel van die reis is om hulde aan die twee persone tebring, maar dis ook vir albei 'n helingsproses om die dood van hulle geliefdes te verwerk.
Magriet was 'n kranige sportgees. Sy het verskeie fietstoere aangepak, twee keer die Camino gestap, selfs nadat sy met breinkanker gediagnoseer is.
Johan wil hierdie ystervrou, wat gewys het dat niks haar onderkry, selfs nie eens die uitmergelende lyding van die laaste drie jaar van haar geveg teen hierdie ongeneeslike siekte, vereer wanneer hy die reis in Stilbaai teen verwagting volgende week voltooi.
Johan het Maandag, 19 Oktober in Graaff-Reinet aangekom en het Dinsdag tot by 'n plaas tussen Aberdeen en Willowmore gery.
'n Versoek word aan Stilbaai se gemeenskap gerig om vir hom 'n spesiale verwelkoming met sy aankoms te reël.
"Ons voel juis omdat hy hierdie toer sonder enige ondersteuning aanpak, dit die ideale geleentheid is om mense wat in die huidige omstandighede van die pandemie en diegene wie se geliefdes wat aan ongeneeslike siektes ly, te bemoedig," het Colleen van Staden in 'n e-pos aan Suid-Kaap Forum gevra.
Johan se reis kan op die Facebook-blad gevolg word wat geskep is onder, Miles to Celebrate the life's and legacy of Magriet and Ditri.
Sy kontaknommer is 082 516 0605.
VORIGE ARTIKEL: Fietstoer om vrou se lewe te gedenk
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'