STILBAAI NUUS - Die gemeenskap van Stilbaai is seker een van die mees innoverende gemeenskappe in die land.
Kort-kort kom daar iets Stilbaai toe en dit is ’n reusesukses. Hier dink ons aan die Boekefees, die Fynbosfees en talle ander voorbeelde.
Donderdagaand, 21 Augustus, was dit die bekendstelling van die Stilbaai-skouspel in Die Waenhuis en is met groot fanfare aangebied.
Die Stilbaai Artemuzik-skouspel gaan op 8, 9, 10 en 11 April 2026 in die gemeenskapsaal aangebied word en hierdie visioenêre musiekinisiatief beoog om verhoogligte regoor die Suid-Kaap te laat skitter.
Die bekende kunstenaars egpaar Johan en Mariqi Erasmus van Stilbaai, is die dryfveer agter hierdie inisiatief.
Hulle sê dit is meer as net ’n opvoering - dit is ’n gemeenskapsbeweging.
Hulle visie is om die onmeetbare skatkis van talent binne die Hessequa- en Tuinroete streke aan te spreek en om ’n vertoning van musiek, klank, lig en kleur te skep wat gehore naby en ver sal betower.
Hulle streef daarna om ’n selfonderhoudende platform te bou wat plaaslike talent koester, moontlike werksgeleenthede skep en die volgende generasie kunstenaars en tegnici inspireer.
Tydens hierdie bekendstellingsgeleentheid het die Skouspel-span ’n voorsmakie gegee van wat gehore kan verwag.
Chris Coetzer, voormalige lid van die drie tenore het twee pragtige liedere gesing en behalwe vir die plaaslike talent gaan Jannie Moolman ook deel uitmaak van die rolverdeling.
Op 16 September sal daar weer so ’n geleentheid wees om mense in te lig en belangstellendes sal die geleentheid kry om eerstehands te beleef wat die skouspel behels.
Die Skouspel-span soek nog bestuurslede, plaaslike sangers en ook borgskappe, met bepaalde voordele, want hierdie is nie sommer ’n skoolkonsert nie.
Belangstellendes moet die pers dophou vir reëlings vir 16 September se bekendstelling.
Vir meer inligting skakel Mariqi by 082 754 7463 of e-pos mariqiart@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’