Gallery
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Passiespele, aangebied deur amateurs uit die gemeenskap, het vol sale getrek met hulle meesterlike opvoering in die Stilbaai-gemeenskapsaal.
Wat regisseur Pauline Hollis reggekry het met die 32 rolspelers in 45 verskillende rolle was kort duskant 'n wonderwerk.
FOTOGALERY: Stilbaai Passiespele
Elkeen van hierdie mense het hulle waarlik ingeleef en hulle was duidelik goed voorberei. Dit was slegs moontlik ná maandlange voorbereiding en lang ure se oefen.
Van die oomblik toe die soldate vir Barabbas, gespeel deur Xenny Yazbek, op die verhoog bring tot die slottoneel met die sing van Pure Joy het die gehoor vasgenael gesit en was daar nie 'n geluid in die gemeenskapsaal nie. Jesus, gespeel deur Pierre Bruwer, het die stuk bymekaargehou en die liefde van Jesus het waarlik uit hom gestraal.
Toe Petrus, gespeel deur Louis de Kock, vir Jesus verloën en die haan kraai, het mens rondgekyk om te sien waar die haan is.
Dit sal onreg-verdig wees om iemand uit te sonder, want elkeen op daardie verhoog het met soveel passie en oortuiging hulle rolle vertolk dat dit die gehoor deel gemaak het van die verhaal.
Die hele opvoering is professioneel saamgestel en uitgevoer en behalwe vir die spelers kan die hele uitvoerende komitee hulle koppe omhoog hou.
Die voorsitter, Marietjie Strydom, en haar komitee Pauline Hollis, Elsie Lategan, Elsa Oberholzer, Herman van Zyl en Tanya Roode het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt.
Jesus dra sy kruis met Barabbas, gespeel deur Xenny Yazbek, op die grond.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’