STILBAAI NUUS - Alle paaie lei hierdie naweek na Stilbaai en die dorp gaan 'n miernes van bedrywighede wees.
Laerskool Bertie Barnard se gr. R-klas bied Battle of the Businesses op die Stilbaai-padelbane aan en besighede gaan mekaar die stryd aansê op Saterdag 27 Februarie van 13:00 tot 18:00. Kontak Chantal van der Merwe by 079 525 6828 of Cecilia Nel by 074 889 6890.
Die vyfde Stilbaai-boekefees begin Vrydagoggend, 26 Februarie, en daar gaan 'n hele klompie liplekker boekbesprekings wees. Vrydagaand om 18:00 gaan Waldimar Pelser (gespreksleier), Qaanitah Hunter, Piet Croucamp en Lourensa Eckard sake van die dag bespreek en met woelinge plaaslik en in die res van die wêreld beloof dit om 'n uiters interessante aand in die gemeenskapsaal te wees.
Saterdag het die boekefees ook 'n vol program en jy kan gerus daarna kyk op hulle Facebook-blad.
Dan is daar ook die jaarlikse Stilbaai Classic-hengelkompetisie met 113 inskrywings, Saterdag en Sondag. Die kompetisie begin Saterdagoggend om 05:00 by die hawe.
Beplan goed en probeer gerus om by alles uit te kom, want daar is nog die gereelde parkrun Saterdagoggend, die Brugmark en dan speel Seagulls ook Saterdagmiddag in Melkhoutfontein teen Arrows-rugbyklub, al die pad van Slangrivier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’