Update
RIVERSDAL NUUS - Riversdallers gaan nog 'n wyle hul neuse moet toedruk as gevolg van die onaangename reuk wat soms in die lug hang.
Dié reuk is afkomstig van 'n varkboerdery buite die dorp.
Volgens die munisipale woordvoerder, Didi Budricks, word dit hoofsaaklik deur onvoldoende behandeling van die miswater in die anaerobiese dam as gevolg van foutiewe belugting veroorsaak.
"Dit voldoen dus nie aan die vereistes soos gestel deur die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning nie."
'n Inspeksie is op 19 Maart deur die gemelde departement uitgevoer. "'n Brief is op 25 Maart aan Riversdale Piggery (Edms) Bpk uitgereik met betrekking tot die monitering van die omgewingsmagtiging deur die departement. Die kern van die nakomingskennisgewing is om te bevestig dat hulle nie aan sekere voorwaardes voldoen soos in die omgewingsmagtiging aangedui wat op 20 April 2018 uitgereik is nie," het Budricks gesê.
Riversdale Piggery het 30 dae kans gekry om 'n gedetailleerde aksieplan in te dien wat alle versagtingsmaatreëls wat hulle wil implementeer om die slegte reuke van die fasiliteit te verlig, duidelik uiteensit.
Hessequa-munisipaliteit het die optrede van die betrokke regeringsdepartement verwelkom en sal die situasie steeds in samewerking met alle belanghebbendes monitor.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'