RIVERSDAL NUUS - Die bestuur van die varkplaas, Riversdale Piggery waar die afgelope paar weke se stank vandaan kom, het die versekering gegee dat hulle in samewerking met die toesighoudende departemente werk om die probleem aan te spreek.
"'n Probleem met een van die misdamme het onvoorsiens ontstaan.
"Die biologiese afbreekproses van die materiaal was onvolledig en dit maak dat onaangename gasse vrygestel word. Wanneer die Suidooster waai, vererger dit die situasie, aangesien die wind dan direk dorp toe waai. Die hitte van die afgelope tyd speel natuurlik ook 'n rol," het Jan Streicher namens Riversdale Piggery se bestuur gesê.
Streicher sê Riversdale Piggery is 'n groei-eenheid en is volgens die modernste tegnologie in die varkbedryf gebou na 'n aansoek, saamgestel uit verskeie navorsingsresultate, verslae, studies en toetse van deskundiges.
"Die ontwerp, beplanning en bestuur rondom die misdamme word in die lisensie om die groei-eenheid te bedryf ingesluit. Dit het baie navorsing en oordeelkunige beplanning geverg. Verskeie adviseurs in die gebied was genader met die ontwerp en volhoubare funksionering van die misdamme," verduidelik hy.
"Ongelukkig is daar geen vinnige oplossings nie. Verskeie prosesse en regulasies moet gevolg word om regstellings te doen. Daar is reeds met van die prosesse begin, byvoorbeeld die skoonmaak van die dam."
Streicher vra namens Riversdale Piggery se bestuur mense om geduldig te wees wees en die klagtevorms wat beskikbaar is, te voltooi. Hy sê dit vorm deel van 'n databasis vir toekomstige beplanning.
"Die bestuur is gereeld in kontak met die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Hessequa-munisipaliteit en nodige departemente oor die vorderingsproses."
Hy sê as bestuur is hulle bewus van die inwoners se frustrasie en ongelukkigheid en wil die versekering gee dat Riversdale Piggery alles in sy vermoeë doen om die probleem op te los.
Vorige artikel: Slegte reuk 'n oorlas
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'