RIVERSDAL NUUS - 'n Onaangename reuk wat vanaf 'n plaas omliggend tot Riversdal afkomstig is, het inwoners aan die praat, of te wel ruik.
Die reuk word as 'n oorlas beskryf en word deur gesondheidskenners binne die plaaslike en distriksmunisipaliteit om 'n tafel aangespreek.
Verskeie vergaderings met 'n positiewe uitkoms is reeds tussen die bestuur van die plaas, die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Hessequa-munisipaliteit, sowel as die departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gehou ten einde die reuk oorlas aan te spreek.
"Die reuk is afkomstig van een van hulle anaërobiese damme waar daar fout was met die beligting en dus gelei het tot die onvoldoende behandeling van die miswater," het Didi Budricks, woordvoerder vir die plaaslike munisipaliteit verduidelik.
'n Onaangename reuk vanaf 'n nabygeleë varkplaas is afkomstig van een van hulle anaërobiese damme, waar daar fout was met die beligting en dus gelei het tot die onvoldoende behandeling van die miswater. Foto: Christo Vermaak
Die bestuur van die varkplaas het grasie tot en met Maandag, 15 Februarie versoek, omdat daar alternatiewe produkte in die dam gevoeg was wat 'n minimum van 14 dae nodig het om optimaal te funksioneer. Die rantsoene van die varke is ook aangepas ten einde die reuk van hulle mis te verminder.
Budricks het versoek dat alle klagtes rakende hierdie spesifieke reuk oorlas skriftelike aan die munisipaliteit gestuur moet word.
Daar is 'n klagstaat wat vir hierdie doel ontwikkel is en kan by die ontvangs van die direktoraat: ontwikkelingsbeplanning (President CR Swartstraat 24, Riversdal) bekom, sowel as ingehandig word.
Die gemeenskap kan klagtes per e-pos aan jan@rpig.co.za of shagon@hessequa.gov.za stuur.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'