STILBAAI NUUS - Sommige stalletjiehouers wat gedurende Desember by die brugmark op dié dorp uitgestal het, voel bietjie verneuk.
Volgens 'n leser wat Suid-Kaap Forum genader het, is sy deur Hessequa-munisipaliteit verseker haar stalletjie sal enig in sy soort wees.
Toe sy in Desember opdaag, was daar egter 'n hele aantal stalletjies wat dieselfde soort ware as sy verkoop.
Ander uitstallers het weer by navraag gesê hulle is heeltemal tevrede met die verhuringsproses en is beïndruk met die geriewe wat die munisipaliteit beskikbaar stel.
Volgens Johan Jacobs (munisipale bestuurder) is plasings op 'n first come, first served-basis gemaak. Daar word nie noodwendig beperkings op die hoeveelheid aansoeke van 'n soort produk geplaas nie. Die munisipaliteit probeer om 'n eweredige verspreiding van produkte te bewerkstellig.
Jacobs het verduidelik toekenning van stalletjies word volgens die provinsiale verordening insake straathandel gedoen.
Ingevolge dié bepalings mag niemand informeel handel dryf sonder die skriftelike goedkeuring (permit) van die munisipaliteit nie. Dieselfde beginsel geld vir die hele Hessequa-gebied.
Die brugmark se informele handelsgebied bestaan uit 14 huisies, een betonblad en 'n grasperk wat vir die 2019-seisoen in 38 stalletjies opgedeel was.
Enige skriftelike kommentaar/insette deur informele handelaars om die brugmark te verbeter sal deur die munisipaliteit verwelkom word, aldus Jacobs.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'